2008/02/16

Februarie 16

1838
Dr Arnoldus Pannevis gebore


Arnoldus Pannevis is op Oudekerk, Holland, gebore en op 14 Augustus 1884 in die Paarl oorlede. Hy het in die medisyne gestudeer en ‘n tyd lank as skeepsdokter gepraktiseer, totdat hy in 1861 bedank en in die klassieke studeer. Op 11 Julie 1866 het hy in Kaapstad geland. Hy gee onderwys, hoofsaaklik in die Paarl en omgewing. Pannevis ontdek in Afrikaans ‘n volwaardige taal; hy is baie godsdienstig en bepleit die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Dit gee aanleiding tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners, die georganiseerde taalbeweging. Pannevis het in Nederlands en Afrikaans gedig; hy is medeskrywer van die Afrikaanse Volkslied (‘n Ieder nasie het sijn land). Aka fak P.J.N.
1854
J.D. Cilliers gebore

Jan Daniël Cilliers is op ‘n plaas naby Wellington gebore en het vroeg kennis gemaak met Die Patriot en sy strewe om Afrikaans erken te kry. In Die Patriot het die meeste van sy gedigte onder die skuilname Kleinjan Wat Versies Maak, Neef Jan (Wat Versies maak), Jan die Versiemaker Junior Verskyn. In 1886 is hy na die goudveld. Hy vestig hom en sy gesin mettertyd op Potchefstroom waar hy op 28 Mei 1922 oorlede is. Hy het Transvaalse burger geword en as sodanig aan die Engelse Oorlog deelgeneem. Na C.P. Hoogenhout was hy die produktiefste digter van sy tyd in Afrikaans; hy het feitlik tot aan sy dood gedig. Sy gedigte sal ‘n paar boekdele vul. Die meeste is godsdienstig. Hoogenhout was veral bekommerd oor die welsyn van sy volk, Cilliers veral oor die welsyn van sy siel. Nadat Cilliers die sewe lydensweke berym het, sluit hy af:

Muns Heilands kruis is almyn lus
Syn kruis myn hoop, Syn kruis myn rus
Myn troos, myn heil, myn lewe.


Hy het ook enkele speels-humoristiese en ‘n paar komiese gedigte geskryf. Sy werk getuig van innigheid en opregtheid, maar besit weinig oorspronklikheid. Aka fak G.S.N.

1877
Vredestraktaat met Sekoekoenie I


Die oorlogsverklaring van die Boere in Mei 1876 teen Sekoekoenie I, opperhoof van die Pedi-stam in Noord-Transvaal, is deur Sekoekoenie en die Britse regering tot hul voordeel uitgebuit. Sekoekoenie het hom hierdeur aan die wêreld voorgedoen as die onskuldige slagoffer van ‘n aggressor wat daarop uit is om sy gebied met geweld af te neem. Die Britse regering het aan die ander kant in die oorlogsverklaring ‘n voorwendsel gevind om die anneksasie van Transvaal deur te dryf en as rede aangevoer die kwansuise onvermoë van die Republikeinse regering om die swartes in Transvaal te hanteer. In werklikheid het Sekoekoenie die Republikeinse regering as’t ware in ‘n oorlog gedwing met sy volgehoue uittartende en aggressiewe optrede. Na die mislukking van die Boeremagte om Sekoekoenie te verslaan, val die Boere terug en word ‘n vrywilligerkorps onder bevel van kapt. C.H. van Schlickmann aangewys om die beleg teen Sekoekoenie voort te sit. Sekoekoenie besef spoedig dat toestande vir hom hopeloos geword het en hy besluit om vrede met die Boere te sluit. Ook vir die ZAR was die spoedige vredesluiting van die allergrootste belang, en op 16 Februarie 1877 is die vredestraktaat tussen die twee partye op Botshabêlô onderteken en verklaar Sekoekoenie hom onderdaan van die ZAR. Dit het sir Theophilus Shepstone egter nie beweeg om van sy planne af te sien nie, en op 12 April 1877 annekseer hy Transvaal. Want nie Transvaal se armoede nie, maar juis sy potensiële rykdom; nie sy swakheid wat gehelp moes word nie, maar juis sy krag wat gevrees is, was die rede tot anneksasie. Aka fak M.v.H

1890
Orde van die Nederlandse Leeu aan pres. Kruger toegeken


Op hierdie datum is aan Paul Kruger by Nederlandse koninklike besluit, nr 11, die onderskeiding toegeken van Ridder Grootkruis in die Orde van die Nederlandse Leeu. Die toekenning is op 29 September 1851 deur koning Willem I van Nederland ingestel. Dit is aan Kruger met die oog op die Nederlandse koning. Willem III, se verjaardag op 19 Februarie 1890 toegeken. In buitengewone omstandighede kan dit ook aan buitelanders – soos met Kruger die geval was – oorhandig word. Dan sluit dit mense in wat waardevolle dienste en bewyse van liefde aan die medemens gelewer het. of wat op die terrein van die wetenskap en kuns gepresteer het. aka fak M.J.S

1922
Daan Goosen gebore


Daniël Petrus Goosen is op Schweizer-Reneke gebore. Nadat hy sestien jaar lank onderwys gegee het, was hy hoof van die afdeling Skool publikasies van ‘n uitgewery. Daarna het hy Algemene Sekretaris van die Transvaalse Onderwysersvereniging geword. In 1962 is ha as Sekretaris van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns aangestel. Hy het in 1969 uitgetree, en nadat hy ‘n tyd lank in diens van ‘n uitgewery was, het hy vennoot in ‘n sakeonderneming geword. Mnr. Goosen was ‘n vurige spreker en het sowel aan die Rand as in Pretoria ‘n aktiewe rol in die Afrikaner se kultuurlewe gespeel en ‘n besondere bydrae gelewer. Hy is op 16 Desember 1975 oorlede. Aka fak P.F.D.W.

No comments: