2008/01/31

Januarie 31.

1808
J.N. Boshof gebore


Jacobus Nicolaas Boshof, vername penvoerder vir die Voortrekkers en eerste staatshoof uit die Voortrekkergeslag, het sy openbare diens as klerk van die siviele kommissaris in 1824 in Graaf-Reinet begin. In 1838 het hy die Voortrekkers in Natal, wat feitlik leierloos was, besoek; hulle het dadelik van sy bestuurstalente gebruik gemaak om instruksies vir alle burgeramptenare op te stel. Hy het ook ‘n simpatieke en histories belangrike uiteensetting van die redes vir die Groot Trek opgestel. As voorsitter van die Natalse Volksraad, was hy in 1842 verplig om te onderhandel oor die oorgawe van Natal. In 1855 is hy tot President van die Oranje-Vrystaat gekies en moes hy ‘n jong republiek wat ekonomies en polities wankelend was, opbou. So word hy grondlegger van die Vrystaatse staatsdiens en die latere Modelrepubliek en poog hy om die burgers deur die orde en reg lojaal aan hulle owerheid te maak. Hy het in Maart 1859 bedank en is op 21 April 1881 in die distrik Pietermaritzburg oorlede. Aka fak prof. dr. J.C.Moll

1841
Herboude kerk van Kaapstad ingewy
(Later die Groote Kerk genoem)

Toe daar in 1835 ernstig aan die vervanging van die dak van die Kaapse kerkgebou uit 1704 gedink moet word, blyk dit dat die ou fondamente die beplande hoër mure en nuwe dak nie sal kan dra nie. Gevolglik word die historiese ou gebou, buiten die toring, tot groot ontevredenheid van ‘n deel van die gemeente gesloop en word die huidige Groote Kerk, grotendeels onder die leiding van die bekende boumeester-argitek Herman Schütte, op die plek van die oue opgerig. Op 31 Januarie 1841 neem die gemeente sy nuwe kerk met sy heel besondere plafon feestelik in gebruik, en tot vandag toe dien dit as die moedergemeente se sentra kerk. Onder die talle geskiedkundige gebeurtenisse wat in die ou gebou plaasgevind het, tel die begrafnisdienste van ‘n reeks vername openbare figure en die inhuldiging van staatspresidente Fouche en Diederichs. Aka fak ds. H.C.Hopkins

1922
AVBOB gestig


Afrikaanse Verbond Begrafnisonderneming Beperk, die bekende begrafnisonderneming en versekering saak, word gestig uit ‘n vereniging bekend as die Afrikaanse Verbond, wat reeds in 1918 in Bloemfontein ‘n voorsorgfonds vir sy lede daargestel het, en word so nie net een van die Afrikaanse pionier sake-ondernemings in die Oranje-Vrystaat nie, maar geniet spoedig erkenning dwarsdeur die land, waar AVBOB gehelp het aan die bou van Afrikaner sake-individualisme. Aka fak H.A. Sloet

1922
Bosman de Kock gebore

Lourens Bosman de Kock is op Potchefstroom gebore, behaal BA en HOD, Universiteit van Pretoria, en UTLM in Musiek en Sang, Universiteit van Suid-Afrika. Hy sit sy musiek studies in Londen voort, waar hy ook tydelik aan die Afrikaanse diens van die BBC verbonde was. Hy is die stigter van Katdorings sang- en toneelgroep, ook die Boere sangers en die Minnesanger koorgroep, stigter van Volksteater Potchefstroom en Die Skerm-toneelgroep in Durban. Hy was 19 jaar verbonde aan die SAUK en vanaf 1 Januarie 1967 direkteur van TRUK. Hy is op 14 Augustus 1967 oorlede. Aka fak prof. dr. A.C. Hartman

1938
Nederland en Suid-Afrika


In hierdie Eeu feesjaar van die Afrikaner toe hy die Groot Trek herdenk het, is kroonprinses Beatrix van die Nederlande gebore. Die Afrikanervolk het in sy eie jubeling saam met die Nederlandse vorstehuis gejuig, want oor een weer is besef dat daar altyd bindinge tussen ons as Dietse eenhede sal bestaan. Dit was immers koningin Wilhelmina, ouma van Beatrix, wat in Oktober 1900 aan Paul Kruger die Gelderland beskikbaar gestel het om hom na Europa uit Britse vyand hande te vervoer. Dit was Nederlanders wat in die Engelse Oorlog aan Boerekant geveg, ons saak in Europa bepleit en noodhulp aan ons Konsentrasiekamp volk verleen het. Die Oranjehuis is in ons Oranjerivier se naam bevestig. Met die vloedramp in Nederland en België in 1953 het die FAK die inisiatief geneem om aan ‘n stamland Christelike bystand te verleen, maar tegelyk ook kultuur bande te bevestig. Van 1952 tot 1977 het ‘n kulturele uitruil verdrag tussen ons en Nederland bestaan. Met die Van Riebeeck feeste van 1952 is weer sterk aan ons Nederlandse betrokkenheid gedink. Deur jare heen is op Afrikaanse tydskrifte vir leeskamers in Nederland ingeteken. Die FAK het bly pleit dat die Nederlanders in Suid-Afrika ten minste 6 April saam met die Afrikaner moet vier. Volksangroepe en kore van die Afrikaner het steeds ook in Diets-Europa opgetree. In 1967 het die FAK die herstel van die Van Riebeeck woning in Culemborg gesteun en in 1971 die pragtige besoekersboeke aldaar voorsien, dus alles dinge wat die Dietse bande toe beklemtoon het. aka fak prof. dr M.J. Swart

No comments: