2008/01/25

Januarie 25

1728
Tieleman Roos gedoop


Saam met drie ander vooraanstaande Kaapse burgers, is Tieleman (Thieleman) Roos, ‘n wynboer van Drakenstein, op 7 Mei 1779 in die geheim deur 404 medeburgers met volmag as afgevaardigdes aangewys om na Nederland te gaan om daar die griewe van die burgers teen die Kaapse regering onder die Here XVII se aandag te bring. Na hulle aankoms in die vaderland, het hulle ‘n lywige petisie, gedateer 9 Oktober 1779, opgestel wat hulle ‘n week later voorgelê het aan die Here XVII, van wie hulle die belofte gekry het dat die saak ondersoek sou word. Hoewel uiteindelik min deur hierdie poging vermag is, was Roos een van die leiers van die Patriotte-beweging, waarby die eerste tekens van groepsbewussyn onder die Afrikaners na vore getree het. aka fak prof. dr. D.J. Van Zyl

1901
Laaste beëdiging van pres M.T. Steyn


Volgens die Vrystaatse grondwet, het pres. Steyn se ampstermyn aan die begin van 1901 verstryk, en omdat die Volksraad vanweë die oorlog nie ‘n kandidaat kon aanwys nie, het die algemene krygsraad dit by Doornberg (digby Allemanskraal) op hom geneem en is pres. Steyn op hierdie dag vir ‘n verdere termyn deur die aanwesige burgers verkies en plegtig voor die huis van genl. A.P.J. Cronje beëdig. Aka fak prof. dr. M.C.E. Van Schoor

1913
Robey Leibbrandt gebore


Sidney Robey Leibbrandt is op Potchefstroom gebore. As bokser bereik hy in 1936 die halfeindronde op die Olimpiese Spele in Berlyn, waar sy bewondering vir die Duitse Führer, Adolf Hitler, gestimuleer is. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog bevind hy hom in Duitsland, terwyl die Unieregering Engeland teen Duitsland steun. Met behulp van die Duitse Weermag, keer hy in 1941 in die geheim na Suid-Afrika terug met die seilboot Kyloe en maak kontak met die Ossewa Brandwag, wat ten sterkste teen die Regering se oorlogsbeleid gekant was. Hy bring ‘n kerngroep van 300 man op die been om die Smuts-regering in sy oorlogspoging te verlam. As rebel het hy in die Afrikanersaak geglo en wou hy sy volksgenote (soos Hitler) tot ongekende hoogtes aanspoor. Na sy inhegtenisneming word hy in 1943 ter dood veroordeel, wat later in lewenslange gevangeniskap verander is. Hy is in 1948 vrygelaat, en op 1 Augustus 1966 is hierdie figuur uit die tyd van die Ossewa-Brandwag oorlede. Aka fak prof. dr. A.D. Pont

1917
NH Kerk se predikante-opleiding begin


Op hierdie dag het die Kuratorium vir die Teologiese Opleiding van die NH Kerk dr. J.H.J.A. Greyvenstein as eerste professor vir die Teologiese Fakulteit van die ou Transvaalse Universiteitskollege benoem. Dit word dandie begin van hierdie kerk se eie predikante-opleiding. Aka fak prof. dr. P.G. Nel

No comments: