2008/01/23

Januarie 23

1847
S.P.E. Trichardt gebore


Stephanus Petrus Erasmus Trichardt, seun van Carolus Johannes Tregardt (1811 tot 1901) en kleinseun van die Voortrekkerleier Louis Tregardt (1783 tot 1838), het aan feitlik al die ekspedisies teen swartes, aan die Transvaalse vryheidsoorlog (1880 tot 1881) en die Jameson-inval (1895 tot 1896) in die ZAR deelgeneem. Van kommandant van Middelburg het hy in 1897 tot bevelvoerder van die Staatsartillerie gevorder en dit gemoderniseer en uitgebrei. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog (1899 tot 1902), bevind hy hom aan die Natalse grens en neem daarna onder meer aan die krygsverrigtinge by Dundee, Ladysmith, Brandfort en Donkerhoek deel. Nadat die Staatsartillerie in Oktober 1900 ontbind is, word hy kommandant van ‘n gedeelte van die Middelburgse Kommando. Na die vredesluiting ondersoek hy die vestigingsmoontlikhede op Madagaskar, maar vestig hom uiteindelik naby Nakuru, Kenia, waar hy in Oktober 1907 op ‘n jagtog oorlede is. Tricardt was ‘n bekwame krygsman met ‘n groot vaderlandsliefde, wat hom onvermoeid vir die vryheid en onafhanklikheid van sy land laat ywer het. aka fak dr. O.J.O. Ferreira

1895
J.J. Bosman gebore

Joseph Jacobs Bosman is op Naauwpoort, distrik Rustenburg, gebore. Teen die einde van die Engelse Oorlog bevind hy hom saam met sy moeder en twee ouer broers in die Potchefstroomse Konsentrasiekamp. Op 19-jarige ouderom aanvaar die jong Bosman ‘n betrekking in Johannesburg, waar hy as assistentboekhouer in ‘n handelsonderneming hom binne enkele jare tot rekenmeester opwerk. Later tree hy in diens by ‘n rekenmeesters- en ouditeursfirma, waar hy waardevole ondervinding opgedoen het van maatskappy-administrasie. Terwyl hy in 1921 hier werksaam was, het die idee om ‘n eie Afrikaanse bank op te rig,, by hom ontstaan. Hierdie gedagte het gaandeweg gestalte gekry, en in 1934 word Volkskas gestig, met J.J. Bosman as hoofbestuurder. Hierdie bankgroep het sedertdien gegroei tot ‘n reus in die Suid-Afrikaanse volkshuishouding en het dus ‘n wesenlike bydrae gelewer tot die uitbouing van Afrikaner-sakebelange. Sy ideale het egter nie met die oprigting van die bank geeindig nie, en in 1936 rig hy Uniewinkels op as ‘n eie Suid-Afrikaanse winkelgroep. Hy is op 29 Junie 1952 in Pretoria oorlede. Aka fak H.A. Sloet

1907
J.V. Smit gebore

Jacobus Visser Smit, ‘n seun van Piketberg, het sy BA en HSOD in 1927 en 1928 onderskeidelik aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi, waarna hy ‘n onderwysloopbaan as spesialis in Afrikaans in Estcourt begin het. In Natal het hy diep spore veral in die onderwys en in Afrikaanse kultuurkringe gee trap. So was hy onder meer vanaf 1957 tot met sy aftrede in 1972 rektor van die Durban-Onderwyskollege. Hierdie inrigting het hy gelei van ‘n suiwer Engelsmedium- tot ‘n suiwer Afrikaansmedium-opleidingsentrum. Hy was voorsitter van die Raad van Trustees van die Saamwerk-Unie, voorsitter van die Eksamenkommissie van laasgenoemde, en 25 jaar agtereenvolgens hoofeksaminator van die Voorbereidende en Laer Taaleksamen. In 1962 het hy die erepenniing van die Saamwerk-Unie ontvang vir sy bydrae tot die uitbouing van die Afrikaner se kultuur en die Afrikaanse gedagte in Natal.
Aka fak prof. J. St. E. Pretorius

No comments: