2008/01/21

Januarie 21

1871
Mej. Nancy de Villiers gebore


Sy was ‘n pionier op die gebied van musiekonderrig in Suid-Afrika en het saam met prof. F.W. Jannasch, Hans Endler, Arnim Schniter en mev. G.R. von Wielligh die Konservatorium vir Musiek in 1905 op Stellenbosch gestig.
Aka fak prof. dr. F.C. Fensham

1881
C.R. Kotze gebore


Christiaan Rudolph Kotze het as jong vrywilliger aan die Engelse Oorlog deelgeneem, maar is weldra gevange geneem en na St. Helena gestuur. In 1911 is hy as predikant van die NG Kerk in Salisbury bevestig, en hy word leier van die Afrikaner se stryd vir skoolregte in Rhodesië. Gedurende sy bediening in Kimberley het hy hom sterk vir die Helpmekaarbeweging beywer, en op Tarkastad het hy Afrikaans in die kerklike lewe tot sy reg laat kom. As leraar van die moedergemeente Bloemfontein (1934 – 1947) het hy hom onversaag vir die breëre volksaak beywer, o.m. as medestigter van die Ossewa-Brandwag en van die Algemene Dingaansfees kommissie van Suid-Afrika. Hy is op 25 Desember 1950 oorlede. Aka fak prof. dr. J.C. Moll

1918
Suid-Afrikaanse Nasionale Trust- en Assuransiemaatskappy (Santam) kry sy naam

Op ‘n vergadering op 5 Desember 1917 in die ou Royal Hotel in Kaapstad beplan sewe manne – mnre.. C.G. Richardt (voorsitter), W.A. Hofmeyr, C.R. Louw, P.A. Malan, F.H. Dormehl, A.F.J. Benning en A. MacDonald (sekretaris) – die Afrikaner se daadwerklike toetrede tot die ekonomiese stryd en word daar besluit om ‘n Afrikaanse maatskappy te stig wat alle vorme van trustwerk en versekering kan hanteer. ‘n Voorlopige direksie word gekies en hulle aanvaar op 21 Januarie 1918 die naam Suid-Afrikaanse Nasionale Trust- en Assuransiemaatskappij Beperk (Santam). ‘n Week later verskyn ‘n gedrukte prospektus, en 200 000 aandele van R2 elk word aangebied, en op 28 Maart 1918 word Santam as maatskappy geregistreer. In 1953 word die trust- en versekerings bedrywighede geskei en Santam-Versekeringsmaatskappy Beperk word op 29 Julie 1953 geregistreer. Die oorspronklike geregistreerde naam word op 25 Oktober 1966 verander in Santam-Bank Beperk. Santam betree ook ander gespesialiseerde finansiële terreine soos die aksepbankwese, die groeifondswese en die herversekeringswese, stig die eerste lugvaartversekeringsmaatskappy in Suid-Afrika en lê hom ook toe op internasionale finansies. In 1978 vind ooreenkomste met die Bankbeheerkorporasie van Suid-Afrika plaas, en verskeie bankbelange word saamgesnoer in ‘n vergrote Santambank Beperk, met die voortsetting van die afsonderlike versekeringsbelange in Santamversekeringsmaatskappy Beperk. Santam glo ook dat dit die handel en nywerheid se taak is om daadwerklik en positief by te dra tot die kulturele, opvoedkundige en morele welsyn van die gemeenskap waaruit hy sy bestaan put, en het in 1963 begin om jaarliks ‘n wedstryd vir kinderkuns aan te bied, waarvan inskrywings op sy kalenders afgedruk is. FAK

1940
J.H. Conradie oorlede


Johannes Hendrik Conradie is op 10 Februarie 1872 op die plaas Rietvlei in die distrik Prins Albert gebore. Hy het hom op ‘n onderwysloopbaan toegelê en op 24-jarige leeftyd is hy as hoof van die Grey kollege in Bloemfontein aangestel. In die Engelse Oorlog is hy deur die Britte gevange geneem, maar na ‘n ruk op parool vrygelaat, waarna hy hom ‘n paar jaar lank op Stellenbosch gevestig het. In 1912 is hy aangestel as superintendent van die arbeidskolonie op Kakamas. Agt jaar later, en weer in 1924 , is hy, as kandidaat van die Nasionale Party, verkies tot lid van die Volksraad vir die kiesafdeling Prieska. In 1929 is hy aangestel as Administrateur van Kaapland – ‘n betrekking wat hy tien jaar beklee het. As administrateur word hy onthou as ‘n man wat onder moeilike omstandighede gedurende die depressiejare Kaapland se sake met buitengewone bekwaamheid gelei het – iets wat by vriend en vyand bewondering afgedwing het. aka fak prof. dr. D.J. Van Zyl

No comments: