2008/01/14

Januarie 14

1902
Olaf Andresen gebore

Olaf Hans Andresen het bekendheid verwerf met sy skool operettes en populêre liedere soos My hart verlang na die Boland en Heidelied. Hy is in Duitsland gebore, het na Suid-Afrika verhuis en hom volkome met die Afrikaner strewe vereenselwig en gedurende die oorlogs jare as vlugteling in Mosambiek liedere vir die Ossewa-Brandwag onder ‘n skuilnaam gekomponeer. Aka fak prof. dr. A.C. Hartman

1917
Genl. Ben Viljoen oorlede

Benjamin Johannes Viljoen is op 7 September 1868 in die Kaapkolonie gebore. Hy het hom op ‘n jeugdige ouderdom in Transvaal gevestig en het verskeie beroepe beklee. Hy was onder meer polisieman, joernalis en lid van die Tweede Volksraad. Dit was egter op militêre gebied waar hy hom onderskei het. Hy het deelgeneem aan die veldtogte teen Jameson en teen die Venda-opperhoof Mphephu en was reeds kommandant toe die Engelse Oorlog in 1899 uitgebreek het. Hy het geveg by Elandslaagte, Vaalkrans, Donkerhoek, Berg-en-Dal, Nooitgedag, Renosterkop en Helvetia. In die guerrilla fase van die oorlog het hy ook ‘n belangrike rol gespeel, veral ten ooste van Pretoria. Vroeg in 1902, toe hy reeds gevorder het tot assistant-kmdt.-genl., is hy naby Lydenburg gevange geneem en na St. Helena gestuur. Daar het hy sy oorlogsherinneringe opgeteken, wat in Hollands, Engels en Duits gepubliseer is. Na die oorlog het hy na Amerika verhuis. Hy is in La Mesa, Nieu-Mexiko oorlede. Aka fak prof. dr. M.C. Van Zyl

1952
Hendrik Hanekom oorlede

Hendrik Andries Hanekom, op 17 Junie 1896 op Beaufort-Wes gebore, was een van die eerste Afrikaners wat ‘n heeltydse toneelspeler geword het. Hy en sy eggenote, Mathilde, word allerweë beskou as van die belangrikste baanbrekers op die gebied van die Afrikaanse beroepstoneel. In 1925 het Hendrik sy werk as stadsklerk op Lydenburg laat vaar en het hy en Mathilde ‘n toneelgroep gestig. Hulle eerste opvoering van Oom Gawerjal se dogters en die stemreg koors het op 16 September 1925 op Premier myn plaasgevind. Daarna het hulle die lang pad gevat en meer as 25 jaar lank alle uithoeke van ons land besoek met toneelstukke soos Oorskotjie, Die Uur van vergelding, Die Silwer-koning, Onskuldig veroordeel, Oom Paul, Generaal De Wet, Hans die Skipper, Ds. Snuffelaar en Die stille haard. Oom Paul was ongetwyfeld hulle grootste sukses. In die opvoering het Hendrik ‘n grootse vertolking van die President figuur gelewer, en die stuk is byna drie jaar lank dwarsdeur die Republiek en Suidwes-Afrika voor geesdriftige gehore opgevoer. Hulle bydrae tot die Afrikaanse toneel word in 1945 beloon toe die eerste Erepenning vir Toneel deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan die egpaar toegeken is. Hendrik Hanekom het in 1937 ook deelgeneem aan Tamboere in die nag, die eerste vervolgverhaal wat in Afrikaans deur die SAUK uitgesaai is. Hulle was albei lede van die Nasionale Toneelorganisasie in die jare 1948 tot 1950, en Hendrik sal veral onthou word vir sy rol as Just, die Jobsfiguur in Nag het die wind gebring en die beminlike ou speurder in Oupa Brompie, wat in hierdie tyd deur die geselskap opgevoer is. Terwyl hy in 1951 besig was met die instudering van Die Koopman van Venesië waarin hy die rol van Shylock sou vertolk, het Hendrik Hanekom siek geword, en hy is in die Strand oorlede. Met sy dood is die Hanekom-geselskap ontbind, maar Mathilde het tot 1966 voortgegaan om af en toe vir Nasionale Toneel en die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste te speel. Sy is op 29 Desember 1976 in Pretoria oorlede. Aka fak E. van der Hoven

No comments: