2008/01/13

Januarie 13

1653
Eerste koring gedors


Jan van Riebeeck teken in sy dagregister (Deel I, p. 117) aan: “Op dato hebben onsen affgesneden ende hier aen de Caepaldereerst gewassen taru beginnen te dorssen, sijnde redelijk vet ende groff van corl, ende nae alle apparentien hiernae (‘t land wat gemest sijnde) beter te succederen. ‘t Is jammer dat de Z. Oostewinden hier soo hard vallen souden anders alle soorte van graen ende vruchten hier genoech cunnen aengefockt worde, …” Hier vind ons die belofte van ‘n ryke landboutradisie wat vir Suid-Afrika sou volg. Die Afrikaner sou ‘n volk van boere word en in sy ekonomie het koring veral later ‘n groot rol gespeel. Die bewerking van die grond het die bewoners van die land aan hierdie aarde verbind. Jan van Riebeeck het met sy proefnemings die vrugbaarheid en bewoonbaarheid van ons land bewys en hiermee die grondslag vir die ekonomiese selfstandigwording van die Afrikaner geleë.
Aka fak prof. dr. P.G. Nel

1866
Jack Brebner gebore


William John Cormack Brebner het as lid van die Vrystaatse regering waardevolle dienste tydens die Engelse oorlog gelewer, en hy was aktief werksaam in die Suid-Afrikaanse politiek, onder meer as Unie-senator (1910 tot 1940) en lewenslange voorsitter van die Afrikanerparty. Hy is op 3 Junie 1945 oorlede.
Aka fak prof. dr. J.C. Mol

1910
Tryna du Toit gebore

Die skryfster Tryna du Toit is op De Aar gebore en het in die Karoo grootgeword. Na haar opleiding as onderwyseres op Wellington het sy ‘n aantal jare in haar geboorte wêreld onderwys gegee. Daarna tree sy in die huwelik met ‘n Pretoriase staatsamptenaar, W.B.A. Kotzenburg. Sy is ‘n gebore storievertelster en haar verhale weerspieël haar liefde vir en kennis van die plaaslewe. Haar romantiese verhale met die plaaslewe as agtergrond is deur oud en jonk gelees, soos Die Bolander, Wag-‘n-Bietjie, Eendekuil, Sy erfenis en baie ander.
Aka fak Dr. J. Celestine Pretorius




1942
‘n Republiek vir SA word deur D.F. Malan voorgestel


Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog, waarteen die Herenigde Nasionale Party of Volksparty onder leiding van dr. D.F. Malan gekant was, het die republikeinse ideaal van die Afrikaner opnuut aangewakker. Op hierdie datum dien dr. Malan ‘n mosie vy die Volksraad in wat onder meer gelui het dat, met die oog op die ernstige krises waarin Suid-Afrika weens sy deelname aan die oorlog betrokke geraak het, die Raad verklaar “dat ons hoogste volksbelange alleen gedien kan word deur die omskepping van Suid-Afrika in ‘n republiek, afgeskei van die Britse Kroon en Ryk en vry en onafhanklik van enige buitelandse mag”. Die Republiek moet geskoei wees op die tradisies en beginsels van die twee gewese Suid-Afrikaanse republieke. Dit moet Christelik-nasionaal wees en moet die gelyke taal- en kultuurregte van albei seksies van die blanke bevolking in ag neem. Die mosie is met die meerderheidstem van die Verenigde Party in die Raad verwerp. Aka fak J.J. van Rooyen

No comments: