2008/01/12

Januarie 12

1666
J. van Arckel oorlede

Joan van Arckel is in 1640 op Den Briel in Holland gebore. Hy kom op
17 Augustus 1665 met die skip Niew Middelburg in die Kaap aan. Hier word hy die eerste vaste predikant. Op Sondag 23 Augustus hou hy twee dienste in die saal van die Fort de Goede Hoop. Hy stig die eerste gemeente aan die Kaap en kry as ouderling Abraham Schut en as diaken Jan Ryniersz. Die eerste kerkboeke wat in sy mooi handskrif geskryf is, bestaan nog. Die eerste Nagmaal onder leiding van ‘n vaste predikant vind plaas op 14 September 1665. Die jong predikant moet ‘n besondere indruk gemaak het, want met die hoeksteenlegging van die Kasteel op 2 Januarie 1666, het kommandeur Zacharias Wagenaer die eerste hoeksteen gelê en Van Arckel die tweede. Kort daarna word hy ernstig siek en kom hy te sterwe op jeugdige ouderdom. Hy was dus net 4½ maand predikant aan die Kaap. Aka fak prof. dr. F.C. Fensham

1865
Jan F.E. Celliers gebore

Johannes Francois Elias Celliers was ‘n bekende Afrikaanse skrywer, digter en dramaturg. Hy lê sy Landmeters eksamen in Nederland af, maar word later ‘n amptenaar in die onderwysdepartement van die ZAR en in 1894 staatsbibliotekaris in Pretoria. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog, sluit hy hom by die kommando’s aan, en in 1902 vertrek hy na Europa, waar hy sy beroemde gedig: Die Vlakte skryf. In 1907 keer hy na Suid-Afrika terug en werk by die Departement van Binnelandse Sake in Transvaal. In 1919 word hy ‘n buitengewone professoraat aan die Universiteit van Stellenbosch aangebied. Baie van sy verse weerspieël sy huislikheid en liefde vir kinders. Behalwe sy digterlike arbeid, werk hy ook mee tot die stigting van Die Brandwag. Hy was ‘n volksdigter, “een wat in woorde vaslê wat in die hart van die nasie omgaan” (Preller). Sy prosawerk is van weinig literêre waarde, maar as digter beklee hy ‘n besondere plek in die Afrikaanse letterkunde. Hy vestig hom na sy aftrede aanvanklik in Kaapstad maar later op Harrismith, waar hy op 1 Junie 1940 oorlede is. aka fak prof. dr. P.G. Nel
Vryheidslied

Vrome vad're fier en groot!
Deur vervolging, ramp en nood,
was hul leuse, tot die dood:
Vryheid! Vryheid!

Erfnis van hul moed en trou
is die grond waar ons op bou.
Juigend tot die hemelblou:
Vryheid! Vryheid!

Ere wie die dood mag lei
om te rus aan hulle sy,
met die sterwenswoord te skei:
Vryheid! Vryheid!

Op dan, broers en druk hul spoor,
voorwaarts, broers, die vaandel voor,
laat die veld ons krygsroep hoor:
Vryheid! Vryheid!

Woes geweld mag hoogty hou,
kettings mag ons lede knou,
maar die leuse bly ons trou:
Vryheid! Vryheid!

Jukke mag vir slawe wees,
manneharte ken geen vrees,
duld geen boei vir lyf of gees:
Vryheid! Vryheid!

Woorde: JaN F.E. Celliers
Musiek: Emiel Hullebroeck
Die vlakte

Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
ongesien, ongehoord,
en dof en loom in my sonnedroom,
ongewek, ongestoord.
Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
skuif my breedte uit,
wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur
wat my swyend omsluit.


Jong aarde se stoot het my boesem ontbloot
bo die diep van die meer;
en volswanger van lewe 't oor die waat're geswewe
die gees van die Heer.
Uit die woelende nag van haar jeugdige krag
brag die aarde voort
Lewiatansgeslagte, geweldig van kragte -
storm-ontruk aan haar skoot.
Diep in my gesteente berg ek hul gebeente -
die geheim van hul lewe en lot;
maar gewek uit die sode herleef uit die dode,
na die ewig hernuwingsgebod,
die van d' verlede in vorme van d' hede,
in eindeloos komme en gaan;
wat die dood my vertrou 't, ek bewaar dit as goud,
en geen grein sal 'k verlore laat gaan.


As die son oor my vloer in die more kom loer,
en die dou van my lippe kom kus,
dan kyk ek net stom met 'n glimlag om
en ek le maar weer stil in my rus.
Hog bowe die kim op sy troon geklim,
is hy heer van lewe en dood;
na wil of luim gee hy, skraal of ruim,
verderf of lewensbrood.


Uit die gloeiende sfeer brand hy wreed op my neer,
tot my naaktheid kraak en skroei,
en my koorsige asem in bewende wasem
al hygend my bors ontvloei.
In sy skadetjie rond om sy stam op die grond
staat 'n eensame doringboom,
soos die Stilte op haar troon, met dorings gekroon,
wat roerloos die eeue verdroom.
Geen drop vir die dors aan my stofdroe bors:
my kinders* versmag en beswyk,
en die stowwe staan soos hul trek en gaan
om my skrale dis te ontwyk.


Soos 'n vlokkie skuim uit die sfere se ruim
kom 'n wolkie aangesweef,
maar hy groei in die blou tot 'n stapelbou
van marmer wat krul en leef -
kolossaal monument op sy swart fondament,
waar die bliksem in brul en beef.
En o, met my is die windjies bly:
hul spring uit die stof orent
en wals en draai in dwarrelswaai
oor my vloer, van ent tot ent:
die gras skud hul wakker om same te jakker,
tot hy opspring uit sy kooi
en soos mane en sterte van jaende perde
sy stingels golf en gooi.


Met dof-sware plof, soos koeels in die stof,
kom die eerste drupples neer,
tot dit ruis alom soos deur die gebrom
en gekraak van die donderweer.
Met kloue vooruit om te gryp en te buit
jaag 'n haelwolk langs verby,
soos 'n perde-kommande wat dreun oor die lande
vertrap en gesel hy-
en sy lyke-kleed sien ek ver en breed
in die awendson gesprei.


Stil in die duister le 'k so en luister
hoe die spruite gesels en lag;
maar bowe die pak van my wolkedak
het die maan al lank gewag:
nou breek en skeur hy 'n baan daardeur
om te deel in my vreug benede;
hy sprei die waas van sy romig-blou gaas-
en ek lag so stil-tevrede.
Plek op plek, soos die wolke trek,
sweef die skaduwees onder mee,
soos eilande wyd oor die waat're verspreid
op die boesem van die grote see.
Met 'n afskeidskus gaan die maan ook ter rus,
en ek wag op die daeraad-
so skoon en so mooi soos 'n fris jong nooi
wat lag in haar bruidsgewaad.


Oor die bukte se rug slaat die gloed in die lug
van die brande wat ver-weg kwyn,
en doringbome fluister in rooi skemerduister
van gevare wat kom of verdwyn.
Uit slote en plas, uit die geurende gras,
styg 'n danklied op ten hemel;
en dis net of ek hoor hoe die kriekies se koor
weergalm uit die sterre gewemel,
waar wêrelde gaan op hul stille baan
tot die einde van ruimte en tyd.
So, groots en klaar, staat Gods tempel daar,
wyd - in sy majesteit.

* "kinders" is wildsbokke
Uit "Die Vlakte" (1908)

1896
Prof. M.S.B. Kritzinger oorlede


Hierdie beminde Afrikaanse literator, Matthys Stefanus Benjamin Kritzinger, is op 16 Oktober 1896 in die distrik Carolina gebore. Hy doseer van 1920 aan die Universiteit van Pretoria, waar hy 1936 tot 1961 professor in die Afrikaanse letterkunde was. Naas sy medewerking aan talle woordeboeke en ander wat hy self saamstel, is sy belangrikste werke ‘n letterkundige atlas en letterkundige opstelle, bv. Oor skrywers en boeke (1932), Letterkundige kragte (1932) en Studies en kritieke (1934). Aka fak prof. dr. S. Strydom

1909
Paul Bothma gebore

Paul Bothma is een van die veterane van die Afrikaanse Radiodiens.
Na sy opleiding as onderwyser aan die PU vir CHO, het hy hom in 1940 by die SAUK as omroeper aangesluit. Hy het ook provinsiale rugby gespeel toe hy Wes-Transvaal en Transvaal verteenwoordig het. As radioman was hy verantwoordelik vir ‘n reeks besprekings programme oor Die toekoms van die Afrikanervolk, Vir die jagter en ‘n reeks hoorbeeld oor die destydse Kongo en Oos-Afrika, getiteld Kampvure langs die ewenaar. As baanbreker sportkommentator het hy die heel eerste jukskei-uitsending gedoen en in 1950-51 die toer van die Springbok-rugbyspan deur Brittanje as kommentator meegemaak. Aka fak D. Erasmus

1927
Louwrens Penning oorlede

Die Nederlandse skrywer Louwrens Penning se simpatieke en realistiese uitbeelding van die Boerevolk se vryheidstryd in talle boeke het grootliks bygedra tot die vriendskap wat duisende Nederlanders vir Suid-Afrika gevoel het. Hy is op 2 Desember 1854 gebore. Sy werke is omtrent almal in Afrikaans vertaal en het die jonger nasate van die Boerevolk van 1900 se jare eweneens sterk besiel. Aka fak prof. dr. J.C. Mol

No comments:

Post a Comment