2008/01/10

Januarie 10

1806
Tweede oorgawe van die Kaap aan Engeland

Na die nederlaag van genl. JW. Janssens by Blouberg op 8 Januarie 1806, het die Britse troepemag onder genl. D. Baird ook Kaapstad binnegetrek en is die voorwaardes van oorgawe op 10 Januarie 1806 op Papendorp (Woodstock) onderteken en op 19 Januarie 1806 bekragtig. Daarvolgens sou die Kaap vir die tweede keer in die hande van Brittanje oorgaan, om nooit weer onder Nederland se gesag te staan nie. aka fak dr. C.M. Bakkes

1818
Prof. D. Postma gebore

Dirk Postma is in Dokkum, Friesland, gebore uit die huwelik van Pieter Pieters Postma en Lolkje Arjens Boekhout. Die gesin het die Gereformeerde geloof van harte liefgehad en vreemd gestaan teen die opkomende liberalisme en modernisme na die Franse Revolusie. Hy kon weinig skoolgaan en moes reeds op 15-jarige ouderdom as loodgieterskneg sy weduwee-moeder help onderhou. In dieselfde jaar verskyn die geskrif Verdediging van de ware Gereformeerde leer … van ds. Hendrik de Kock in Ulrum, wat lei tot die kerklike Afskeiding van 1824 en die stigting van die Christelike Gereformeerde Kerk van Nederland. Die Postma-gesin het ook met die protes teen die gees van die 19de eeu meegegaan. Hierdie mense wou buig onder die algehele gesag van die Bybel en die Belydenis van die Hervorming in die sestiende eeu onverswak handhaaf. Terwyl die Nederlandse Regering die Afskeiding hardhandig onderdruk het, het Postma die roeping gevoel om predikant te word. Na een jaar studie by die huis van die Semitikus, ds. T.F. de Haan, word hy op 19 Junie 1840 as predikant toegelaat en bekwaam hy hom verder deur selfstudie. Hy het vier gemeentes in Nederland bedien en ‘n leidende rol ten opsigte van die opleiding van predikante, die Christelike onderwys en kerklike aktiwiteite gespeel. Die Sinode van 1857 het gevolglik ds. D. Postma, ‘n wewenaar, afgevaardig om aan die Transvaalse Regering in hulle nood aan predikante en onderwysers hulp namens die Sinode te gaan aanbied en tegelyk ook sendingmoontlikhede te ondersoek. Hy het moeite gedoen om ‘n kerklike skeuring te verhoed en het hartlike verhoudinge met die enigste predikant in Transvaal, ds. D. van der Hoff, onderhou. Die Algemene Kerkvergadering het hom op 11 Januarie 1859 kragtens die grondwet ondersoek of hy Gereformeerd is en verder om sy standpunt oor die sing van Gesange gevra. Postma wou dit aan die vryheid van die predikante oorlaat. Die vergadering het die gebruik daarvan egter verpligtend gestel. Postma het hom bereid verklaar om predikant van die te stigte Gereformeerde Kerk op Rustenburg op 11 Februarie 1859 te word. Hy het as enigste predikant tot 1862 uit Rustenburg kerke in Transvaal, die Vrystaat en Noordoostelike Kaapkolonie bedien. Vanaf 1863 het hy kragdadig aan die onderwys van die jeug en oprigting van skole aandag gegee. Vanaf 1864 het hy begin om aanhuis-uitgesoekte manne, onder ander ‘n onderwyser soos Jan Lion Cachet, opleiding as predikante te verskaf. In 1866 het hy met die oog daarop, ‘n beroep na Burgersdorp aangeneem en saam met Jan Lion Cachet in 1869 die predikante-opleiding aan die pas gestigte Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika behartig. Hy het feitlik in die tuig op 28 Desember 1890 gesterf. Postma se groot bydrae was nie beperk tot die opleiding van roepings bewuste predikante, besiel met liefde vir die gereformeerde geloof nie. Hy was ‘n vurige pleitbesorger vir die regte van Hollands in die Engelse Kaapkolonie. Dit is veelseggend dat die Taalmonument ter herdenking van die verkreë reg om Hollands in die Kaapse Parlement te besig, in Burgersdorp opgerig is. Hy was ook ‘n voorstander van plaaslike sending eh het in 1870 daarvoor ‘n breë beleid uitgewerk. Sy grootste betekenis na buite lê egter in sy onvermoeide ywer en volharding om vrye Christelike skole vir Christelik-nasionale Onderwys op die plase en dorpe op te rig en toe te sien dat daar oortuigde Calviniste en Afrikaners voor die kinders staan. Sodoende het hy ‘n bydrae tot die Afrikaanse volkswording en kultuur gelewer wat van onskatbare waarde was. Aka fak prof. dr. B. Spoelstra

1872
A. Dreyer gebore

Andries Dreyer – sendeling, kerkhistorikus en argivaris van die NG Kerk, joernalis en Africana-versamelaar – is op Philadelphia in Kaapland gebore. Hy het hom aanvanklik vir die onderwys bekwaam. Met private studie het hy in 1896 in die sendelingeksamen van die NG Kerk geslaag. Hy is op 12 Maart 1903 georden as sendeling van die gemeente Kaapstad met die Kleurlingwyk Hanoverstraat as werkkring. In 1928 het die NG Kerk hom uit hoofde van sy veelvuldige kerkhistoriese publikasies tot die eerste heeltydse kerkargivaris en redakteur van die jaarboek (almanak) van die NG Kerke in Suid-Afrika benoem, ‘n pos wat hy tot sy dood op 31 Augustus 1938 beklee het. Sy kerkhistories arbeid, sy bronnepublikasies en sy kosbare Africana-versameling het in 1937 aan hom ‘n eredoktersgraad in die lettere van die Universiteit van Suid-Afrika besorg. Tientalle gemeentelike en kerk gedenkalbums het uit sy pen verskyn, en hoewel hy nie as ‘n vakkundige geskiedskrywer beskou is nie, het hy ‘n benydenswaardige historiese sin geopenbaar en in meer as een opsig die weg gebaan vir die wetenskaplike beoefening van die kerkgeskiedskrywing in Suid-Afrika. Aka fak

No comments:

Post a Comment