2008/01/01

Januarie 1

1858
D. Balfoort gebore


Dirk Balfoort was ‘n Nederlander wat in 1890 in Pretoria aangekom het; hy word regisseur en later direkteur van die Rederykerskamer Onze Taal, direkteur van die “Hollandsce Mannekoor” en komponis. Hy het deur genotvolle aande ‘n besondere bydrae tot die kultuurlewe van Pretoria in die negentigerjare van die vorige eeu gelewer. Aka fak prof. dr. P.G. Nel

1861
E.R. Grobler gebore

As seun van Philippolis, het Essias Renier Grobler hom onderskei as lid en ondervoorsitter van die Vrystaatse Volksraad. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog beklee hy die rang van generaal by die suidelike kommando’s. Na die oorlog keer hy terug na die politiek en verteenwoordig hy onder meer die Nasionale Party in die Senaat. Van 1924 tot 1929 beklee hy op waardige wyse die administrateurskap van die Oranje-Vrystaat. Hy is op 31 Augustus 1947 in Bloemfontein oorlede. Aka fak prof. dr. M.C.E. Van Schoor

1900
Ds. J.D. Conradie gebore

Jacobus Delarey (Jac) Conradie is op Klerksdorp gebore, ontvang sy skoolopleiding op Lichtenburg, waarna hy hom as predikant op Stellenbosch bekwaam. Hy was onder meer voorsitter van die Uitvoerende Raad van die Reddingsdaadbond, en ook lid van die Bestedings komitee van die Reddingsdaad fonds. Aka fak prof. dr. O. Grobbelaar

1907
Almanak van die NH Kerk verskyn

Op hierdie dag verskyn die eerste uitgawe van die Almanak, die jaarboek van die Nederduitsch Hervormde Kerk, aanvanklik uitgegee deur die inisiatief van die kerkvader, ds. Jac van Belkum. Dit het later die amptelike kerklike publikasie geword. Die Almanak bevat al die statistiek en ander gegewens van die kerk en sy gemeentes. Daarby word jaarliks ‘n verskeidenheid artikels en lewensbeskrywings van kerkmens gepubliseer. Hierdie biografiese materiaal, tesame met al die historiese foto’s wat al opgeneem is, maak die Almanak ‘n publikasie van groot waarde vir die genealoog, die kultuur- en die kerkhistorikus. Vanaf 1966 is ‘n Bybelse Dagboek by die Almanak gevoeg.
Aka fak prof. Dr. A.D. Pont

1951
Suid-Afrikaanse Seemag herbenoem tot SA Vloot

Die naam Suid-Afrikaanse Seemag word op die dag met die naam Suid-Afrikaanse Vloot, vervang. Daardie vloot het die dekade wat gevolg het, ‘n eg Suid-Afrikaanse karakter aangeneem. Nie net is die Simonstad se skeepswerf in April 1957 formeel aan die Suid-Afrikaanse Vloot oorhandig nie, maar is die titel HMSAS (Haar Majesteit se Suid-Afrikaanse Skip) voor die skeeps name in 1952 verkort tot SAS. Talle skeeps name is voorts uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis oorgeneem, SAS President Kruger en ander presidents name vir die fregatte, en Maria van Riebeeck en ander prominente vroue se name vir die duikbote. Op hierdie manier word die ou seevaart-tradisie van die Afrikaners, as nasate van Nederlanders, Skandinawiërs, Franse en Britte weer geleidelik herstel. Terselfdertyd kom Afrikaans in ons see-bedrywighede meer tot sy reg.
aka fak Dok D, SAW

No comments: