2007/12/18

Desember 20

1880
Slag by Bronkhorstspruit


Ten einde die Britse garnisoen in Pretoria te versterk, is ‘n afdeling van die voetsoldate, 94ste Reglement bestaande uit 263 offisiere en manskappe, gelas om onder bevel van lt. –kol. Philip Anstruther, van Lydenburg na Pretoria te gaan. Die Boere krygsraad het egter besluit dat hierdie opmars verhinder moet word, aangesien ‘n konsentrasie van Britse troepe-magte in Pretoria vir die Boere ‘n lastige situasie kan skep. Gevolglik is kmdt.. Frans Joubert (Frans Held) van Paardekraal na ‘n posisie oos van Pretoria gestuur om Anstruther se opmars te stuit. Toe Joubert met sowat 200 man op 20 Desember 1880 met Anstruther se afdeling in aanraking kom, het die Engelse reeds tot aan die Honderivier by Bronkhorstspruit gevorder. ‘n Sekere Paul de Beer is daarop met ‘n brief na Anstruther gestuur, waarin hy versoek is om nie sy opmars voort te sit nie. Toe Anstruther weier om gehoor te gee, het Joubert tot die aanval oorgegaan. Die Slag by Bronkhorstspruit, vier dae na die uitbreek van die Transvaalse Vryheidsoorlog het die eerste groot slag van die oorlog geword. In ‘n geveg wat slegs enkele minute geduur het, is die Britse feitlik heeltemal uitgewis, terwyl Anstruther self kort na die geveg aan sy wonde oorlede is.
aka fak W.A. Stalls

1914
Jopie Fourie se teregstelling


Gebore op 27 Augustus 1878 op die familieplaas Wildebeesthoek, distrik Pretoria, het Joseph Johannes (Jopie) Fourie, nadat hy in verskeie skole in Pretoria was, aan die Greykollege, Bloemfontein, gestudeer. Hy onderbreek sy studie om aan die gevangenneming van Jameson by Doornkop deel te nee, en besoek daarna die Victoria-kollege op Stellenbosch, om uiteindelik tot die kantoor van die Ouditeur-generaal van die ZAR toe te tree. In die Engelse Oorlog onderskei hy hom as ‘n bekwame rapportryer en onverskrokke vegter. Nooit het hy teruggedeins om die gevaarlikste take te onderneem nie. Hy word sodanig verwond dat hy aan die eenkant van sy hoof sy gesig en gehoor verloor. Na die oorlog lê hy hom toe op die boerdery op die familieplaas en is hy ‘n troue ondersteuner van genl.. Botha en sy Het Volk Party. Genl. Beyers wil hom oorhaal om by die pas gestigte Unie-Verdedigingsmag in 1912 aan te sluit, maar dit loop slegs uit op ‘n kapteinskap in die Burgermag. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, het hy bedenkinge oor Botha se besluit om Duits-Suidwes-Afrika aan te val, maar sy aktiewe inskakeling by die protesterendes word veroorsaak deur die optrede van ‘n Engelssprekende gepeupel op die Krugerdagverrigtinge in Pretoria, waarby genl. Beyers verhinder is om as spreker op te tree. Teen die einde van Oktober 1914 bevind hy hom gewapend in die veld onder bevel van genl.. J.J. Pienaar. Na verskeie skermutselinge, waarin die regeringstroepe swaar verliese ly, is hy op 16 Desember saam met sy jonger broer en verskeie ander by Nooitgedacht, in die Rustenburg-distrik, deur ‘n oormag gevange geneem. Klaarblyklik om van hulle ‘n voorbeeld te maak, is ‘n krygsraad op ‘n oorhaastige wyse saamgestel en Jopie en sy broer van hoogverraad aangekla, omdat hulle nie as lede van die Burgermag bedank het voordat hulle die wapens opgeneem het nie. Sy broer Hannes is tot vyf jaar harde-arbeid gevonnis, terwyl Jopie die doodvonnis opgelê is. Pogings van dr. D.F. Malan, ds. C.A. Neethling en ander om genl.. J.C. Smuts, Minister van Verdediging, op te spoor om Jopie se vonnis te versag, misluk. Vroeg die Sondagoggend van 20 Desember 1914 is Jopie deur ‘n vuurpeloton gefusilleer. Hartroerende briewe, o.m. aan sy volk, eggenote, advokaat, prokureur en aan genl.. Louis Botha, wat kort voor sy dood in die tronk geskryf is, is mettertyd by honderdtalle afgeskryf en onder Afrikaners versprei. Die oorhaastige verhoor en voltrekking van sy vonnis sou die Afrikanervolk diep skok, en die verontwaardiging teen die optrede sou tot die snelle opbloei van die Nasionale Party lei. Dekades lank sou dit ook teen genl.. Smuts se hoof geslinger word dat hy vir die dood van Jopie verantwoordelik gehou moet word. Sy oorskot is verskeie kere herbegrawe, maar tans rus dit in die Ou Kerkhof in Pretoria. Op sy grafsteen pryk die woorde: “Getrou tot die dood. Geoffer vir Volk en Vaderland.”
aka fak prof. dr. M.C.E. Van Schoor

No comments: