2007/12/18

Desember 19

1792
Kmdt.-genl. A.H. Potgieter gebore


Andries Hendrik Potgieter is in die distrik Graaff-Reinet gebore. Deur hardwerkendheid het hy mettertyd die plaas Kommandodrif aan die Tarkarivier in die distrik Cradock bekom. Hoofsaaklik vanweë die verydeling en verbittering wat deur die Britse Oosgrens beleid gewek is, het Potgieter, wat eintlik by sy tweede naam Hendrik bekend was, die Kaapkolonie teen die einde van 1835 verlaat. Aanvanklik het sy trek uit familielede bestaan, maar later aansienlik aangegroei o.m. deur die aansluiting van Sarel Cilliers se groep. Teen die middel van 1836 het die laer by Bloudrif aan die Sandrivier gestaan. Van daar het Potgieter ‘n besoek aan Louis Tregardt in die Soutpansberg gebring. Tydens sy afwesigheid het die Trekkers hulle oor die grasvlaktes tot aan die Vaalrivier versprei. Dit het Matabele-aanvalle uitgelok, wat op die feitlik totale uitwissing van die Liebenberg familie uitgeloop het. Die Slag by Vegkop op 16 Oktober 1836 het hierop gevolg – ‘n veldslag waarin Potgieter se bekwame en kalme leiding en voortreflike krygsvernuf bygedra het tot die feit dat ‘n veertigtal Boere meer as 6 000 Matebeles met geweldige lewensverlies teruggedryf het. Verdere botsings met die Matebeles by Mosego en Kapain het die terugdrywing van die Matebeles tot anderkant die Limpopo tot gevolg gehad. Vanweë sy selfstandigheidsgees en stugheid, het hy moeilik met ander Voortrekkerleiers saamgewerk. Hoewel Potgieter op die Trekker vergadering van 2 Desember 1836 as laerkommandant gekies is, is hy na die aankoms van Piet Retief nie weer tot die regering verkies nie. Dus, begerig om ver weg te kom van die Britse owerheid en ook na sy omstrede deelname van die Vlugkommando in Natal in April 1838, het Potgieter hom in die Oorvaalse gebied gaan vestig waar hy Potchefstroom aangelê het. Daarna woon hy agtereenvolgens op Andries Ohrigstad en Schoemansdal, Soutpansberg, waar hy ook op 16 Desember 1852 oorlede en begrawe is. Potgieter was by uitstek daarvoor verantwoordelik dat die Transvaalse grondgebied deur die Voortrekkers bewoon kon word. aka fak G.J. Jooste

1880
M.C. (Oom Tienie) van Schoor gebore

As seun van die Koeberg, het Marhinus Cornelius van Schoor reeds vroeg in sy lewe sy vader verloor en moes hy uitspring om sy moeder te help versorg. Met ‘n skoolopleiding van weinig meer as st. 7, het hy deur toegewyde selfstudie hom as elektrotegnikus bekwaam en uiteindelik in die Spoorweë van telegraaf-inspekteur tot elektrotegniese ingenieur gevorder. Met sy groot respek vir menselewens en obsessie om dit te beveilig, het hy vir die grootste gedeelte van sy beroep hom daarop ingestel om ‘n revolusionêre enkellyntreinbeheerstel te ontwerp om spoorverkeer te beveilig. Uiteindelik is die stelsel, wat lank teëgestaan is vanweë Van Schoor se openlike Afrikanerskap, dwarsoor ons land toegepas en deur sy toedoen in sy geheel in Suid-Afrika vervaardig. Ewe doelgerig en toegewyd, was sy roeping om Afrikaans sy regmatige plek in die Spoorweë te verseker. Hy is een van die stigterslede van die ATKV, dien van die begin in die uitvoerende raak daarvan en beklee ook die voorsitterstoel. Met die Simboliese Ossewa trek van 1938 word hy Trek leier en posmeester van die Hooftrek van Kaapstad na Pretoria en het hy en sy eggenote alom as Oom Tienie en Tannie bekend gestaan. Sy hartstogtelike liefde vir sy land en volk en sy meer universele lewenskyk om tot diens van sy naaste te wees, sou veral in vervulling gaan toe hy die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga – die eerste Afrikaanse nood hulporganisasie wat later ook tot nie-blankes uitgebrei is – help stig het, en waarvan hy vir meer as drie dekades tot en met sy dood, 29 Mei 1967 in Bloemfontein die Hoofkommissaris was. aka fak prof. dr. M.C.E. Van Schoor

No comments: