2007/12/04

November 7

1869
Ds G.W.A. van der Lingen oorlede
Gottlieb Wilhelm Antonij van der Lingen is op 29 Mei 1804 in Kaapstad gebore. Na sy teologiese studie in Nederland keer hy in 1832 terug, nadat hy aanvanklik in China sendingwerk wou gaan doen. Hy word predikant van die NG gemeente Paarl, waar hy 38 jaar lank – tot sy dood – diens doen. Hy was in baie opsigte ‘n eksentrieke mens, maar ongetwyfeld besonder beginselvas, en het hom ook as taal- en kultuurleier onderskei. Hy was nie net predikant nie, maar ook volksman, en het ‘n groot rol in die onderwys gespeel. Nadat daar in 1857, veral as gevolg van sy ywer, besluit is om in die Paarl ‘n middelbare skool onder toesig van die kerk te stig, is in 1858 met die eerste klasse begin. Dit was sy beleid dat hierdie skool, wat die Gimnasium genoem is, slegs Hollands as medium van onderwys sou hê. Hierdie skool bestaan vandag nog. In sy tyd was hy een van die mees belese Afrikaners en het hy ‘n boekery besit van meer as 4 000 boekdele. Hy was ook gemoeid met die oprigting van twee tydskrifte, ondermeer in 1849 Die Gereformeerde Kerkbode (vandag Die Kerkbode), waarvoor hy na bewering die eerste artikel geskryf het. Hy sterf op 65 jarige ouderdom en word langs die bekende Strooidakkerk in die Paarl begrawe. Van hom met A.W.J. Pretorius, ‘n tydgenoot, geskryf dat hy “een ware Africaan” is.1901 “National Scouts Corps” gestigAanvanklik het die Britse militêre owerheid Boere wat in die Engelse Oorlog oorgegee het, as spioene en verkenners gebruik, maar dan op ‘n nie-amptelike basis. Die geringe uitwerking van die Britse proklamasie van 7 Augustus 1901, waarvolgens burgers wat na 15 September 1901 nog met die stryd voortgegaan het, vir altyd uit die land verban sou word of al hul eiendom sou verloor, het die Britse owerheid egter laat besluit om voortaan meer georganiseerd van hierdie oorlogsmoeës gebruik te maak. Invloedryke Boere wat reeds die eed van trou aan die Britse kroon afgelê het, soos onder andere generaals A.P.J. Cronjé en Piet de Wet, het in Desember 1900 die sogenaamde Burgersvredeskomitees gestig, omdat hulle die guerrilla-oorlogvoering as sinloos en selfvernietigend beskou het. Aanvanklik was hulle redelik passief, maar teen September 1901 het hulle aangebied om aan Britse kant te veg en burgers wat hulle reeds oorgegee het vir dieselfde doel in eenhede te organiseer. Lord Kitchener het die plan verwelkom en onmiddellik reëlings getref vir die stigting van die “National Scouts” in Transvaal en later ook die “Orange River Colony Volunteers” in die Oranje –Vrystaat. Hoewel die “National Scouts” eintlik op inisiatief van genl. A.P.J. Cronjé, ‘n voormalige lid van die Potchefstroomse kommando en broer van genl. P.A. Cronjé, gestig is, het dit onder direkte beheer van die Britse militêre owerheid gestaan. Die “Scouts” is in verskeie afdelings, bestaande uit tussen 50 en 150 man, georganiseer met een of twee Britse offisiere in bevel, wat dan bygestaan is deur ‘n aantal Boere-offisiere. Van elke burger wat ‘n lid van die “Scouts” geword het, is verwag om ‘n kontrak te teken, waarvolgens hy onderneem om vir ses maande diens te doen. Die aanvanklike vergoeding sou bestaan uit oorlogsbuit, aangevul deur geskenke van die Britse hoofkwartier vir buitengewone dienste gelewer. Teen die einde van 1901 is ‘n vasgestelde vergoeding skaal ingevoer wat gewissel het van 5 sjielings per dag vir ‘n gewone burger tot 15 sjielings per dag vir ‘n offisier. Die uitdeel van geskenke het steeds voortgeduur. Nie-amptelik is aan die “Scouts” beloof dat hulle na die beëindiging van die oorlog voorkeurbehandeling sou ontvang. Die verskil tussen die oorlopers en die onversoenlikes is dan ook by elke moontlike geleentheid sterk benadruk. In die konsentrasiekampe, wat die vernaamste werwings plekke vir “National Scouts” was, het die “Scouts” se familielede ook voorkeurbehandeling geniet. In Februarie 1902 was daar reeds 1 000 “National Scouts” in die veld, en teen die einde van die oorlog 1 480. Die “Orange River Colony Volunteers” was nooit meer as 480 man sterk nie. Die oorlopers was nooit juis waffers vegters nie, maar hulle waarde was daarin geleë dat hulle die land goed geken het en dus waardevolle diens kon lewer as patrollie gidse, verkenners en spioene. Daarbenewens het hulle die Britse magte se beleid van “verskroeide aarde” help uitvoer deur Boereplase te plunder en af te brand. Die invloed van hul laakbare optrede op die moreel van hulle vroeëre strydmakkers is moeilik te bepaal, maar dit het waarskynlik baie van die nog vegtendes uiteindelik bittereinders gemaak , terwyl ander as gevolg daarvan besluit het om as krygsgevangenes die wapen neer te lê. Na die Vrede van Vereeniging was die “National Scouts” in ‘n onbenydenswaardige posisie. Die bittereinders het hulle verafsku, en in die Konsentrasiekampe moes daar selfs spesiale voorsorgmaatreëls getref word om gewelddadige optrede tussen die twee groepe te voorkom. Dat slegs enkele voorvalle van gewelddadige aard in hierdie tyd voorgekom het, getuig van die afwesigheid aan wraaksug onder die Afrikaners. Helaas, vir die Britse militêre owerheid was die “National Scouts” hulptroepe wat hulle nie meer nodig gehad het nie, en vir die Britse regering was hulle maar net nog ‘n groep Boere wat gerepatrieer moes word. Hulle enigste kampvegter was maj. E.H.M. Leggett, deur wie se toedoen hulle tog spesiale behandeling in die periode van repatriasie ontvang het. Beledigings en kerklike sensuur het nie uitgebly nie, en baie Afrikaanse predikante het daarop aangedring dat die “National Scouts” in die openbaar hulle skuld moet bely. Dit het die sogenaamde “Scout”-kerke tot gevolg gehad, maar geleidelik het die kerk sensuur verslap en het vereniging plaasgevind. In 1904 het die Boereleier genl. Louis Botha, met ‘n beleid van rekonsiliasie begin, en met die Uniewording in 1910 was die “National Scouts” weer in die gemeenskap opgeneem, maar in die volksmond bly dié naam steeds ‘n skandnaam.

No comments: