2007/12/04

Oktober 4

1836
Generaal Piet Cronje word gebore
Pieter (Piet) Arnoldus Cronje wat op Colesberg gebore is, was ‘n krygsman. ‘n Boeregeneraal wat in diens van die Zuid-Afrikaanse Republiek gestaan het. Pieter was ‘n vurige en ‘n voortvarende man wat ook soms met ‘n eiesinnige geaardheid gesukkel het soos geblyk het uit die verkoop van Piet Bezuidenhout se wa, wat die vonk in die kruitvat met die Transvaalse Vryheidsoorlog was. Sy krygskap het ‘n hoogtepunt bereik met die slag by Magersfontein waar lord Methuen verslaan is. Generaal Cronje het op ‘n vernuftige wyse persoonlik oor die front die bevel gevoer.Die krygsprestasie is egter kort daarna bederf deur sy onwilligheid om dit op te volg. Methuen het hom met klein geveggies besig gehou totdat lord Roberts se mag opgedaag en die Cronje-mag van 4 000 man by Paardeberg vasgedruk en tot oorgawe gedwing het. Generaal Cronje is gevang en na St. Helena gestuur.Na die oorlog was hy ‘n tyd lank in Amerika voordat hy hom op sy plaas Palmietfontein by Ventersdorp gaan vestig het. Hier op die plaas het Pieter op 4 Februarie 1911 aan beroerte beswyk.

No comments: