2007/12/04

November 28

1916
Pres M.T. Steyn oorlede
Net drie jaar jonger as die Oranje-Vrystaat, sou Steyn saam met hierdie republiek grootword. Marthinus Theunis Steyn is op 2 Oktober 1857 by Rietfontein, digby Winburg, gebore. Soos feitlik alle Vrystaatse seuns van daardie tyd, sou hy gaan boer, maar op aandrang van regter Buchanan, ‘n huisvriend van die gesiene Steyns, besluit hy om hom in Nederland en daarna in Engeland in die regte te bekwaam. Na sy terugkeer bou hy ‘n florerende praktyk as advokaat in Bloemfontein op, en met die rondgaande hof ontmoet hy vir Rachel Isabella (Tibbie) Fraser, pastorie-dogter van Philippolis, met wie hy in 1887 getroud is. In 1889 aanvaar hy die benoeming as staatsprokureur en word in dieselfde jaar as tweede strafregter en in 1892 as eerste strafregter aangestel. Toe pres. F.W. Reitz om gesondheidsredes as Staatspresident bedank, word Steyn as die Volksraad se kandidaat benoem en as ‘n vurige en oortuigende republikein met ‘n oorweldigende meerderheid bo J.G. Fraser verkies. Met ‘n indrukwekkende inhuldigingsrede in die historiese Tweetoringkerk op 4 Maart 1896, gee hy ‘n verreikende visie aan die Afrikaner se taak as republikein. Allereers moes die Vrystaat in alle opsigte tot ‘n modelrepubliek verder uitgebou en versterk word, sodat dit in ‘n groter eenheid met die ZAR nie as mindere nie maar as gelyke kon toetree. Met hierdie ideaal van ‘n versterkte Boererepubliek moes daar in die toekoms in die rigting van ‘n verenigde SA gewerk word, waarin Afrikaans- en Engelssprekende tot heil van Suid-Afrika moes saamwerk. Daarmee het Steyn die grondgedagte omlyn wat genl. Hertzog as Suid-Afrika eerste! Sou formuleer en het hy ook die weg na die uiteindelike republiekwording van Suid-Afrika aangedui soos dit onder adv. J.G. Strijdom en dr. H.F. Verwoerd verwesenlik is. Juis die wyse waarop hy die Vrystaat op politieke, ekonomiese, pedagogiese en kulturele vlak in sy kortstandige vredestydperk van sy staatspresidentskap versterk het, het selfs die Transvalers na hom laat opsien as die toekomstige leier van die verenigde twee republieke. Deur sy toedoen was die twee state reeds ver op weg na vereniging gevorder toe die oorlog in 1899 uitbreek en dit verhinder. Steyn het al sy kragte ingespan om die oorlog af te weer, maar toe dit blyk dat die imperialistiese nagshonger van ‘n Chamberlain en ‘n Milner nie te keer is nie, was dit hy wat die Vrystaters besiel het om trou aan hulle verbond en erewoord aan Transvaal te wees en hulle lot by hul broeders oorkant die Vaal in te werp. Waar die gety dikwels in die llop van die oorlog teen die Republieke gekeer het, was dit Steyn wat hulle deur daad en voorbeeld gemaan het om trou te wees. Dit was hy wat hulle die betekenis van die stryd getoon het: die stryd was ‘n smeltkroes waarin die Afrikaner gelouter sou word – ‘n skeiding van troues en ontroues, van hensoppers en bittereinders. As sommige burgers telkens wil moed opgee en vrede sluit, is dit Steyn wat vasstaan, en hy word in der waarheid die siel van die ganse vryheidstryd. Soos ‘n gewone burger sou hy die stryd tot die einde in die veld meemaak en dikwels sy laaste korsies brood aan ander uitdeel. Toe die onvermydelike kom, was hy reeds ernstig krank en kon hy aan die vredesonderhandelinge feitlik geen deel he nie. Deur selfs sy presidentskap neer te le, kom hy ‘n troue belofte na om nie sy hand op papier te sit wat die Oranje-Vrystaat se onafhanklikheid sou wegteken nie. Teen alle mediese advies in, neem sy eggenote hom na Europa, waar hy van ‘n algehele spierverlamming sodanig herstel dat hy in 1905 weer na sy geliefde Vrystaat kon terugkeer. Op sy plaas, Onze Rust, nie ver van Bloemfontein nie, sou hy nou die mees vertroude leidsman van die Afrikaners word en onder die bekende Boom van Sameswering hulle met raad en daad bystaan om hul politieke en ekonomiese herrysenis te versseker. Op onderwysvlak steun hy die CNO-beweging en is hy die vader van die bekende Oranje-meisieskool in Bloemfontein; hy bepleit die opheffeing van die armblankes; hy steun elke poging om die Afrikaner se taal en kultuur te versterk en is een van die stigters van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Aan die politieke front steun hy die stigting van die Oranje-Unie, is hy ‘n hoog gewaardeerde lid van die Nasionale Konvensie en sou hy waarskynlik Suid-Afrika se eerste premier geword het as sy gesondheid dit toegelaat het. Met die politieke skeuring in 1912 steun hy genl. Hertzog, en ook tydens die Rebellie lê sy simpatie by genl. De Wet en die protesterendes, hoewel hy ernstige pogings aangewend het om die broedertwis in Afrikanergeledere te voorkom en te heel. Deur sy toedoen is die Nasionale Vrouemonument opgerig en op 16 Desember 1913 onthul. Min kon hy besef dat hy die eerste sou wees wat in die skoot sou rus van hierdie monument wat hom so na aan die hart gelê het. Terwyl hy die Oranje-Vrouevereniging in die Gedenksaal toegespreek het, het hy aan beroerte beskwyk. aka fak Prof. dr. M.C.E. van Schoor

No comments: