2007/12/04

November 26

1862
Kaapse Hooggeregshof beslis dat Kaapse NG Kerk slegs uit gemeentes binne Kaapland geleë, saamgestel mag wees.


Op hierdie dag is deur deur die Kaapse hooggeregshof beslis dat die Kaapse NG Kerk slegs uit gemeentes binne Kaapland geleë, saamgestel moet wees en dat al die ander gemeentes wat tot dusver in die Sinode sitting gehad het, voortaan nie meer daardie reg sou geniet nie. Vir ouderling Hugo Hendrik Loedolff van Malmesbury, was dit ‘n persoonlike triomf. Hy het lankal oor die saak ontevrede gevoel, ‘n hofgeding aanhangig gemaak en gewen. Vir die Kerk was dit ‘n ellendige oomblik. Dit het daarop neergekom dat die staatsgrense ook as kerklike grense gegeld het, en dat die lidmate in die ander gebiede sonder sinodale gesag of binding was. Die gevolg was dat die Vrystaat in 1864, Natal in 1865 en Transvaal in 1866 elk ‘n eie Sinode gestig het. Loedolff het met verdere hofsake begin optree, ten einde vorige Sinode-besluite onwettig verklaar te kry. In 1863 het die regters weer eens uitspraak gelewer en hierdie keer die Kerk gelyk gegee ten opsigte van vorige beslissings. Loedolff was nie werklik so suiwer op die wet ingestel nie, maar hy wou die Kerk bykom en in die proses die aardse, menslike betroubaarheid bo die gesag, eer en optreewyse van die Kerk probeer stel. Hy kan tereg as ‘n speerpunt van die destydse liberalisme beskou word. Hoewel hy groot nadeel vir en verwarring binne die NG Kerk geskep het, het die Woordverkondiging oral voortgegaan, en in 1962, na een honderd jaar dus, is ‘n Algemene Sinode weer gevorm. aka fak Prof. dr. M.J. Swart

1864
Hendrik H. Visscher gebore

‘n Hollandse onderwyser wat hom in 1887 in die Transvaalse Republiek gevestig het, het in 1890 skoolhoof op Rustenburg geword, later inspekteur en sekretaris van die CNO-skole. Hy het hom beywer vir musiek in die skole en veral probeer wal gooi teen die vloedgolf Engelse liedere deur self skoolliedere te komponeer en in bundels uit te gee. Hy was die eerste mens wat tradisionele Afrikaanse liederwysies opgeteken het. Hy is oorlede op Rustenburg op 14 Maart 1928.

aka fak Prof. dr. A.C. Hartman

1931
Genl. A.M. Prinsloo oorlede


Antonie Michael Prinsloo is op 11 Julie 1862 in Bloemfontein gebore waar sy vader in die distrik geboer het. Toe hy ‘n jong seun was, het sy ouers na Bethlehem getrek waar hy ook mettertyd begin boer het. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog ruk hy saam met die Bethlehemse kommando op waar sy leierskaphoedanighede spoedig opgemerk is sodat hy teen Februarie 1900 reeds tot kommandant van sy kommando bevorder is. Prinsloo se ontluikende kalme onverskrokkenheid het spoedig vir hom verdere bekendheid meegebring. So is hy byvoorbeeld tydens die Britse aanslag op Colesberg in Maart 1900 in die lugpyp gewond. Desnieteenstaande was hy die laaste burger wat uitgejaag het en in die proses ‘n medeburger op sy perd gelaai en daarna ook nog die Norvalspontbrug opgeblaas het. Na verskeie ander heldhaftige optredes het hy tussen 1900 en 1901 die twee invalstogte saam met genl. C.R. de Wet in die Kaapkolonie onderneem. Hy kry sy generaalsrang in Julie 1901 toe hy bevelvoerder word van die noordelike Vrystaatse kommando’s. Toe die oorlog in 1902 beëindig is, was sy kommando van 1 100 manskappe die grootste enkele kommando in albei Boererepublieke. Na die oorlog het Prinsloo hom mettertyd in die Bethlehemse distrik gaan vestig waar hy in 1912 distrikskommandant geword het van die plaaslike kommando. As lojale ondersteuner van genl. L. Botha het hy in 1914 geweier om deel te neem aan die Rebellie. Later het hy egter ondersteuner van genl. J.B.M.Hertzog geword. Gedurende 1929 tot 1930 het hy as stadsraadslid van Bethlehem gedien. Terwyl hy op 26 November 1931 met boomaanplanting besig was, is hy deur ‘n waansinnige vermoor en daarna met volle militêre eerbewys in Bethlehem begrawe. Die leeuemoed, wat sy hele lewe gekenmerk het, het genl. De Wet op ‘n keer van hom laat sê: “Gee my honderd burgers soos Rooi Michael Prinsloo van Bethlehem en ek sal die Engelse uit Engeland jaag.” Aka fak G.J. Jooste

No comments: