2007/11/26

Oktober 1

1908

Oktober 1 sien ons dat Dr Albert Wessels gebore is.
Hy was ‘n baanbreker onder die Afrikaners, en het groot sukses in die sakewêreld behaal. Sy grootse prestasie as sakeman het aan hom ‘n eredoktersgraad besorg wat deur die UVOS in 1968 aan hom toegeken is. Dan het hy ook die Frans du Toittoekenning vir bedryfsleiding van die SA Akademie ontvang.

Albert Wessels is gebore op die plaas Annaspan, in die distrik Boshof. Hy het op Boshof matrikuleer en sy BA graad met Tale en Sielkunde aan die UOVS behaal.

Hierna het hy die handelsrigting beproef en die graad BCom in 1934 met onderskeiding behaal.
Hy aanvaar toe ‘n betrekking by ‘n beleggingsbank, en word hoof van ‘n korrespondensiekollege en in Julie 1942 besturende direkteur van ‘n klerefabriek. Hy het ‘n finansiele instelling en ook ‘n motormaatskappy gestig, wat ontwikkel het tot die derde grootste motormonteernywerheid in die Republiek

Ook het daar uit sy pen onder andere: Moffie en sy maats (1938) en
Tog sterker (1941) verskyn.

In 1910 is

Prof. P.J. Nienaber gebore. Petrus Johannes Nienaber is in die distrik Fauresmith gebore. Sy bydraes lê wyd, versamelaar van twee volledige stele Afrikaanse boeke, eredoktor, professor, ereprofessor, voorsitter van die SA akademie, stigter en curator van die RGN se Dokumentasiesentrum, stigter en direkteur van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentruk Musiek en Toneel (NALN), skrywer en samesteller van meer as 500 boeke en duisende artikels. Hy was die redakteur van die FAK se Handhaaf-en-Boureeks gedurende die dertiger en veertigerjare, en het belangrike bydrae tot die vestiging van die Afrikaanse vaktaal gelewer met die verskyning van onder meer die lyste, Motorterme, Kookterme, Krieketterme, Skyfskietterme en Skoenmakersterme.

Bowenal word hy onthou as die man wat sy lewe daaraan gewy het om die kosbaarhede van die Afrikaanse letterkunde te red, die waarde daarvan te laat deurdring en dit vir die toekoms te bewaar. In 1976 was hy ook verantwoordelik vir die oprigting van twee ontontbeerlike bewaarplekke. Terwyl hy hoogleraar in ou Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand was, is hy na die RGN gesekondeer waar hy die ommvangryke Dokumentasiesentrum vir Taal en Letterkunde gevestig het. Hierna het hy die grootse NALN in Bloemfontein begin terwyl hy nog kurator van die Dokumentasiesentrum was. In die jaar 1979 is twee spesiale toekennings aan hom gedoen, een deur die FAK vir sy volgehoue bevordering van Afrikaans en die ander deur die Federasie van Rapportryerskorpse vir die sistematisering en bewaring van Afrikaanse letterkundige werke.

1937

DIE TRANSVALER VERSKYN


Op die dag het die eerste uitgawe van Die Transvaler in sy eie gebou in Hoeksstraat 18, Johannesburg, verskyn. Die stigting van die maatskappy Voortrekkerpers op 23 April 1936 en die koerant was ‘n onderneming met die doel om ‘n spreekbuis vir die Nasionale Afrikaners en meer bepaald vir die Nasionale Party van Transvaal te verskaf. Die politieke samesmelting van 1934 het die voortesette Nasionale Party van Transvaal baie verswak, en dit moes feitlik van nuts af herbou word.

Daarvoor was ‘n dagblad nodig. ‘n Stigtingsvergadering is op 30 September 1935 onder voorsitterskap van sen. W.A. Hofmeyr op Stellenbosch gehou. ‘n Afvaardiging het mnr Pieter Neethling van Stellenbosch genader, en hy het die eerste R10 000 gegee om in aandele belê te word. Openbare oproepe om bydraes is gedoen deur dr. D.F. Malan en mnr. J.G. Strijdom, wat landwyd deur Nasionaliste ondersteun is, maar wat nie baie geld ingebring het nie, omdat getalle en vermoens maar beperk was. Die koerant is met ‘n skuldlas maar in die geloof begin en het deur die jare ‘n groot bydrae tot die politieke en kulturele vordering van die Afrikaner gelewer.

No comments: