2008/08/23

23 Augustus 1894 : Sangiro gebore


Andries Albertus Pienaar, wat op Broederstroom in die Pretoriase distrik gebore is, gebruik as skuilnaam sy naam onder die Bantoes, Sangiro, wat hasie beteken. In sy dertiende jaar vertrek die Pienaar gesin na Duits-Oos-Afrika, en tot 1913 help Sangiro met die boerdery op sy vader se plaas, Broedersrus, aan die voet van die Meruberg en besoek ‘n skooltjie op ‘n naburige plaas. In 1913 keer hy terug na Suid-Afrika vir vêrdere opleiding aan die Volkskool op Heidelberg (waar hy later ‘n onderwysbetrekking aanvaar) en die Universiteit van Stellenbosch. As student besoek hy so ouers na ses jaar, en die ondervindings wat hy op die besoek opdoen, vorm die materiaal vir: Uit oerwoud en vlakte (1921). Simba (1944) skryf hy na aanleiding van twee rolprent ekspedisies na Tanganjika vir die vervaardiging van twee films Kilimandjaro (1924) en Shaitani (1928). Hy was ook regisseur vir twee ander rolprente: Die Bou van ‘n Nasie en Die Lig van ‘n Eeu. Laasgenoemde is ‘n dokumentêre film oor die Hollandse Kerk in Suid-Afrika. Hy het H.A. Aschenborn se Die Adelaar e.a. Afrikaanse Verhale vertaal. Ander gepubliseerde werke van Sangiro is Op Safari (1925), Diamantkoors (1926), Trekvoëls (1939), en En die Oranje vloei verby (1951). Dit is dikwels teen Sangiro se bekendste werk Uit oerwoud en vlakte ingebring dat dit oorwegend ‘n vertaling uit die Duits van Afrikanische Tierwelt I, Novellen und Erzählungen van Von Schellendorf is. Prof. Dekker het volledig hierop ingegaan en in Afrikaanse Literatuurgeskiedenis tot die slotsom gekom dat Sangiro baie aan sy Duitse bron te danke het, maar nooit Uit oerwoud en vlakte kon laat verskyn het “sonder sy intieme kennis van die Oos-Afrikaanse dierelewe en natuur” nie. Dikwels gaan Sangiro sy eie koers ten goed: “Die sketse het artistiek suiwerder geword as die Duitse, deur die hegter samehang en deur sy gevoelige humor.” Sangiro is op 30 April 1979 op Bloemhof oorlede. aka fak NJS

No comments: