2009/03/09

Ode

Ek is ‘n Boer
En ek het my brood geëet
Soms droog
Soms met koffie
Soos net ons dit maak
(vroeg in die môre)
in Afrika
soos net ons hom ken
ek het tougelei
in die land se warm son
met sy sonbesies
sy kwêvoëls
sy warm lug
wat eindeloos blink lê
bo die mopanies
vroeg in die môre
in hierdie Afrika wat ek liefhet
en ek het saans huis toe gestap
moeg van buk
en kap
buk en kap
om land skoon te maak
en die son gaan rooi onder agter die Ysterberge
en vroegskemer klink alle geluide
harder intiemer nader
en die eerste vure brand al
alle skemeraande is weemoedig
in Afrika.
My hande is hard
So hard soos masjinerie
Niks maak my meer bevrees nie
Selfs my eie angs maak my nie meer bevrees nie
Want ek is so hard soos Afrika
So onvoorspelbaar soos Afrika
So meedoënloos soos Afrika
My Afrika
Van waar ek nêrens het om heen te gaan nie
En ek lag vir my vyande
Omdat ek weet
Omdat ek moet.

- Johan de Jager -

2 comments:

nikita said...

Baie mooi gedig!

RoosMaryn said...

Nikita! Hallo.