2008/03/02

Maart 2

1653
Eerste retoervloot om vars voorraad in te laai


Jan van Riebeeck se koms na die Kaap was primêr om ‘n verversingspos te stig om skepe van vleis en groente te voorsien. Op Sondag 2 Maart 1653 kry Van Riebeeck berig dat daar skepe buit die ingang van Tafelbaai lê, onder meer ‘t Hoff van Zeelant en die Walvis van die retoervloot. Enkele dae nadat hulle skaap- en beesvleis en onder meer kool en wortels ingeneem het, het hulle na Nederland vertrek. Aka fak D.E

1866
Die Universiteit van Stellenbosch gestig


Die geskiedenis van die Universiteit van Stellenbosch strek terug tot in die jaar 1866 toe die openbare skool op die dorp volgens die Onderwyswet van 1865 as die Stellenbossche Gymnasium gereorganiseer is. Die aanvoorwerk vir die totstandkoming van die Gymnasium is gedoen deur proff.. J. Murray en N.J. Hoffmeyr van die Teologiese Seminarium in samewerking met die plaaslike predikant, ds J.H. Neethling. Die drie manne is dan ook as die stigters van die Universiteit van Stellenbosch bekend. Die Gymnasium het in 1881 die Stellenbosch College geword. In 1887, die jaar van die 50-jarige Jubileum van die regering van koningin Victoria van Brittanje, is die naam verander in die Victorie-Kollege van Stellenbosch. Dr. D.F. Malan, wat later Suid-Afrika se vierde premier sou word, het ‘n groot aandeel gehad in die vervanging van die Victoria-Kollege deur die Universiteit van Stellenbosch op 2 April 1918. Hy was saam met prof. A. Moorrees en mnr. J.G. van der Horst die mede opsteller vir voorlegging aan die owerhede van die klassieke memorandum waarin Stellenbosch aangedui word as die plek waar die Afrikanervolk sy ideale verwesenlik kan sien en die grootste invloed op Suid-Afrika kan uitoefen. Soos in die verlede, lewer die universiteit vandag nog mense wat op alle terreine en in alle beroepe in ons land ‘n belangrike rol speel. Tot 1978 het byvoorbeeld ses van Suid-Afrika se sewe eerste ministers aan die universiteit gestudeer. Bykans 50 000 studente het reeds op Stellenbosch gestudeer. Die universiteit het in 1978 11 438 studente in sy 12 fakulteite. Die fakulteite is die van Bosbou en Krygskunde, wat die enigste in hulle soort aan ‘n Suid-Afrikaanse universiteit is, Lettere en Wysbegeerte, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde, Landbou, Regsgeleerdheid, Teologie, Handel en Administrasie, Ingenieurswese, Geneeskunde en Tandheelkunde. Op sportgebied beskik die universiteit oor die beste geriewe vir elke moontlike sport. Baie van die land se knapste sportsterre word op Stellenbosch gekweek.

1906
Ds H.J.C. Snijders gebore

Hendrik Johannes Christoffel Snijders is op Leeudoringstad gebore. Vanweë sy buitengewone geesdrif en groot bekwaamheid het hy spoedig na sy legitimasie belangrike ampte in die kerk begin beklee aktuarius en moderator van die Natalse Sinode, assessor en moderator van die Suid-Transvaalse Sinode. Hy het ook in sy bediening ‘n lewendige belangstelling in die Afrikaner se kultuurlewe getoon en deur sy aktiewe deelname ‘n belangrike rol in die uitbouing en handhawing daarvan – veral in Natal – gespeel. Hy was jare lank lid van die FAK se Hoofbestuur. Kort nadat hy op ‘n gesamentlike Hervormings diens op Swartruggens op die kansel ineengesak het, sterf hy op 23 November 1975. aka fak P.F.D.W