2008/08/27

27 Augustus 1962 : Johannesburgse Stadskouburg geopen met opera in Afrikaans


Sedert die Stadsraad van Johannesburg in 1929 gemoeid geraak het met die aanbied van operas – Faust van Gounod was die eerste – het die belangstelling van die gemeenskap met elke jaarlikse seisoen toegeneem. Toe daar besluit is om die Burgersentrum in Braamfontein te bou, is daar ook wyslik besluit om ‘n kompleks vir uitvoerende kunste as deel van daardie sentrum op te rig. Die Stadskouburg is die eerste deel van ‘n drieledige kompleks. ‘n Konsertsaal en ‘n dramateater moet bygevoeg word. Deur die jare heen het die Afrikaner se belangstelling in die stad Johannesburg se aksie uitvoerende kunste toegeneem. Daarom was die amptelike ingebruikneming van die Stadskouburg (1 120 sitplekke) op 27 Augustus 1962 vir die Afrikaner ‘n belangrike mylpaal in die merkwaardige kulturele aktiwiteit van ‘n stad wat in daardie stadium ‘n bietjie meer as ‘n driekwart eeu gelede ‘n stowwerige rumoerige mynkamp was. Afrikaans en die Afrikaner het ‘n integrerende deel van die inwydingsfees uitgemaak. Mnr. Eben Cuyler, ‘n Johannesburger, was een van die stadsvaders wat hom beywer het vir die bou van ‘n stadskouburg. Die eerste aanbieding was die opera Die Verhale van Hoffman deur Jacques Offenbach, wat in Afrikaans opgevoer is. Die Stadsvaders het ‘n jong Johannesburgse Afrikaner, mnr. Michal Grobbelaar, as direkteur van die Stadskouburg aangestel – die eerste teater in sy soort in Suid-Afrika wat geheel en al op ‘n beroeps grondslag beheer en bestuur word. Toe die voor gordyn vir die eerste keer opgetrek is op 28 Augustus 1962, was dit in teenwoordigheid van die Republiek se eerste Staatspresident adv. C.R. Swart, en sy gade, en die Eerste Minister, dr H.F. Verwoerd, en mev. Verwoerd. Die dirigent vir die opvoering was ook ‘n Johannesburgse Afrikaner, dr. Anton Hartman. Ons land se voorste sopraan, Mimi Coertse, is van die Staatsopera in Wenen, Oostenryk, gebring om die hoofrol te sing. Die manlike hoofrolle is deur Ge Korsten en Hans van Heerden vertolk. Die Johannesburgse Afrikaanse Toneel komitee, onder voorsitterskap van mnr. Siegfried Kuschke, was verantwoordelik vir die Afrikaanse drama-aanbieding van die inwydingsfees. Die Besoek van die Ou Dame deur Durrenmatt, wat deur Bartho Smit vertaal is. Anna Neethling-Pohl en dr. Jan Schutte het die hoofrolle vertolk. Die heer Fred Engelen het die spelleiding gedoen, terwyl Kobus Esterhuysen vir ‘n baie verbeeldingryke dekor-stel gesorg het. aka fak MJG

No comments: