2008/08/14

14 Augustus 1875 : Genootskap vir Regte Afrikaners gestig


Op hierdie dag is ‘n vergadering in die Paarl gehou wat ‘n wending in die geskiedenis van die Afrikaanse volk sou bring. Daar is besluit om die volk bewus te maak van homself en sy taal en om Afrikaans tot sy regmatige plek te verhef. Indien Afrikaans algemeen in gebruik is, sou die Bybelvertaling waarna Arnoldus Pannevis gestrewe het, vergemaklik word.

Dit is dan ook na aanleiding van Arnoldus Pannevis se korrespondensie met die BBBG oor die vertaling van die Bybel in Afrikaans dat die vergadering plaasgevind het. By die vergadering is oorgegaan tot die stigting van die GRA en die stigterslede was: C.P. Hoogenhout, D.F. du Toit (Oom Lokomotief), S.J. du Toit, A. Ahrbeck, S.G. du Toit, G. Malherbe, D.F. de Toit (Dokter) en P.J. Malherbe

Op die tweede vergadering is die Genootskap gedoop en is sy doelstellings, waarvan die vernaamste was “om te staan vir ons Taal, ons Nasie en ons Land”, geformuleer. Hieruit is duidelik dat die Genootskappers nie ‘n beperkte taalbeweging nagestrewe het nie, maar ‘n nasionale beweging: hulle wou die volk ophef op elke gebied. Hulle sou hulle veral rig tot die plattelander, en onder die besielende leiding van S.J. du Toit sou dit uitloop op ‘n magtige volksbeweging. Die bekende Afrikaanse Volkslied, ‘n skepping van Pannevis, Hoogenhout, D.F. en S.J. du Toit, was die GRA se eerste publikasie en verwoord die Genootskappers se ideale en strewe.

Die naam “Regte Afrikaners” is verkry uit die Genootskap se manifes, waarin onderskei word tussen Afrikaners met Engelse, Hollandse en Afrikaanse harte, waarvan lg. die “Regte Afrikaners” .

Hier gaan dit weer nie net om die taal nie, maar die gesindheid, die nasionale ingesteldheid. Op 15 Januarie 1876 verskyn die koerant wat as spreekbuis vir die strewe van die GRA sou dien en in die taalbeweging ongekende lewe sou blaas, paslik genoem Die Afrikaanse Patriot.

Hierdie eerste Afrikaanse koerant was die verwoording van ‘n Afrikaanse gedagte in eenvoudige Afrikaanse taal. Hoewel die Genootskappers en hulle blad baie spot en teenkanting moes verduur, was hulle ‘n vlam wat taalliefde en nasionalisme in baie harte aangesteek het. Veral op politieke gebied het Die Patriot die Afrikanersaak gepropageer, maar na die veranderde politieke beleid van S.J. de Toit het die blad gekwyn en is dit in 1904 gestaak. Sy taak is grootliks oorgeneem deur Ons Klyntji, die eerste Afrikaanse tydskrif, wat vanaf Maart 1896 verskyn het om veral die Afrikaanse letterkunde te bevorder.
Die GRA se ander publikasies sluit onder meer in Afrikaanse grammatika- en geskiedenisboeke, ‘n Afrikaanse almanak, ‘n spel- en leesboek, ‘n woordeboek, versamelde Afrikaanse gedigte en prosawerke. Hiermee het die Genootskap die volk van leesstof in hulle eie taal voorsien. Ter ere van die twintigste verjaardag van die GRA, is die eerste Afrikaanse taalkongres in 1896 in die Paarl gehou.

Die GRA het nederig begin, maar geëindig in ‘n magtige sirkelbeweging wat al die vlakke van volkwees ingesluit het. Die Genootskappers het met onvermoeide ywer ons volk bewus gemaak van sy volkwees en sy nasionale besit, en daarom kan hulle met reg die vaders van die Afrikaanse volk genoem word. prof. dr. P.G. Nel

No comments: