Algemene Verkiesing
17 Junie 1924
Genl. J.C. Smuts het na die samesmelting met die Unioniste party en die Volksraadsverkiesing van 1921 as Eerste Minister en leier van die Verenigde Party al sterker teenstand gekry van die Nasionale Party o.l.v. genl.. J.B.M. Hertzog en die Arbeidersparty o.l.v. kol. F.H.P. Creswell. Laasgenoemde twee partye het in 1923 ‘n ooreenkoms vir samewerking aangegaan (die Pakt). Na ‘n nederlaag by ‘n tussenverkiesing in April 1924 in Wakkerstroom bedank genl. Smuts sonder om sy kabinet te raadpleeg en bepaal ‘n algemene verkiesing vir hierdie datum. Dit word deur die Pakt gewen met ‘n meerderheid van 28 setels, en genl. Hertzog word Eerste Minister. In sy kabinet van 10 lede dien twee van die Arbeidersparty. Hieruit vloei o.m. die instelling van die departemente van arbeid en buitelandse sake en die eerste aanstelling van verteenwoordigers in die buiteland, verskeie stappe om die boeregemeenskap te help, die verheffing van Afrikaans by wet tot amptelike landstaal naas Nederlands en Engels, die skepping van ‘n Suid-Afrikaanse nasionaliteit en ‘n nasionale vlag, die bevordering van tweetaligheid in die staatsdiens, die invoering van ‘n bepaling in die Grondwet om die soewereiniteit en leiding van die Voorsienigheid oor die Unie van SA te boekstaaf, die invoering van ‘n beskermingsbeleid vir die eie nywerheid, wat ‘n groot stoot aan SA ondernemings gee, die stigting van ‘n eie yster- en staalbedryf (Yskor), die skepping van geleenthede vir werkverskaffing, ens. Twee groot ontwikkeling kenmerk hierdie eerste Hertzog-bewind. Die eerste was die verkryging van grondwetlike outonomie vir SA as lid van die Statebond in die Balfour-verklaring van 1926, wat uitloop op die Statuut van Westminister in 1931. Die tweede was die begin van die uitvoering van genl.. Hertzog se naturelle beleid, wat na ‘n lang reeks parlementêre prosesse sedert 1926 uiteindelik gelei het tot die aanname van die Wet op die Naturelle-trust en –grond en die Naturelleverteenwoordigingswet in 1936. J.J. van Rooyen
No comments:
Post a Comment