2008/05/05

1652 : Mei 5 Geskiedenis Spoor Vandag : Meermin


Mei 5
1652
Die blankes vind die eerste inheemse Kaapse houtbos


Vanaf die begin van die Kaapse verversingspos was daar ‘n groot behoefte aan allerlei alledaagse noodsaaklikhede, waarvan timmer- en brandhout die belangrikstes was. In ‘n poging om geskikte timmerhout te vind, het vier amptenare op hierdie dag oor Kloofnek gestap en aan die berghange bokant Houtbaai vir die eerste keer ‘n inheemse houtbos teengekom. Dit was die begin van die ontginning van Suid-Afrika se inheemse hout bronne. Geen moeite is ontsien om voldoende voorrade van die kosbare hout te bekom nie. Vervoer- en arbeidsprobleme was egter deurgaans ‘n groot struikelblok. Mettertyd is die gebied vanaf die huidige Constantianek tot by Nuweland verken en ontgin. Die haas onbegaanbare pad oor die Hottentots-Holland berge, het tot diep in die agtiende eeu verhinder dat die welige bosse van die suid kusstreek doeltreffend benut kon word. Reeds gedurende 1710 is in die Politieke Raad verslae oor hierdie Overbergse bosse ter tafel tele. Tog is daar eers in die tweede helfte van die agtiende eeu begin om houtkappers poste in die omgewing van die huidige Riviersonderend, Swellendam en Heidelberg op te rig. Dit is deur Kompanjies arbeiders self bewerk. Daarvandaan is maandeliks enkele wavragte timmerhout na die Kaap gestuur. Gedurende 1777 is ‘n dergelike onderneming in Outeniekwa land langs die Swart rivier begin. Dit was veral die hoë vervoerkoste wat die Kaapse owerheid gedwing het om uiteindelik in Desember 1786 die eerste werklike ekonomiese groeipunt aan die suidkus te begin met die aanlê van die houtkapperspos in Plettenbergbaai. Johan Fredrik Meding is as opsigter aangestel, terwyl Jan Jacob Jerling ‘n skuur vir die opberging van die hout naby die strand gebou het. Reeds in Augustus 1788 is die eerste vrag hout met die skip Meermin na die Kaap vervoer. A.A.

No comments: