2008/04/14

1900 : 14 April Geskiedenis Spoor Vandag : Boerekrygsgevangenes op die “Milwaukee”


14 April
1900
Die eerste Boerekrygsgevangenes aan boord van die Milwaukee kom op St. Helena aan.


Ongeveer 30 000 Boere is in die Engelse Oorlog in gevangenskap gehou. Die meerderheid was krygsgevangenes. ‘n Kleiner groep wat oor die Mosambiekse grens gevlug het, is in drie interneringskampe in Portugal aangehou. Terwyl die Kolonialers wat gesimpatiseer het met die Republikeinse saak, in strafkampe en tronke in Kaapland gevange gehou is. Die krygsgevangenes is egter hoofsaaklik aangehou in kampe oorsee. Op die eiland St. Helena was drie kampe, op die Bermuda-eilandgroep ses, in Ceylon vyf en in Indië tien sulke kampe.

Die Kaapse kampe is streng bewaak teen moontlike ontsnapping. Daarteenoor het die kampe buite Suid-Afrika minder geleentheid vir suksesvolle ontsnapping gebied. Pogings het wel voorgekom. Die bekendste was die ontsnapping van ‘n vyftal Boere van ‘n skip met krygsgevangenes af in die hawe van Colombo (Ceylon). Nadat hulle uit die water opgepik is, het hulle na Odessa gevaar, deur Rusland na Wes-Europa, van daar na Duits-Wes-Afrika om hulle weer in die noordweste by die Boeremagte aan te sluit. Weinig was egter gelukkig om te ontkom.

Om nuttig besig te bly, was ‘n groot probleem. Die krygsgevangenes was, behalwe die paar honderd uitlanders wat saam geveg het, bykans almal landbouers. Min kon vlot lees en skryf en kon hul geleerdheid aanvul deur van makkers, oud-onderwysers en predikante onderrig te ontvang. Behalwe hierdie formele onderrig, is aandag gegee aan Bybelstudie en kategese met die oog op aanneming. In hierdie kampe was seuntjies van agt jaar tot ou mans van oor die 80 saamgetrek.

Naas onderwys het baie hulle afleiding gevind in ‘n verskeidenheid van verenigings soos debatsverenigings, toneelverenigings, verskillende Christelike en kerklike verenigings, kore en sportverenigings. Ander het hulle toevlug geneem tot handwerk en ‘n bloeiende bedryf in aandenkings, wat selfs na oorsee uitgevoer is, het ontstaan. Heelwat kamp blaadjies is versprei, sommige gedruk en ander op verskillende maniere afgerol.

Dit was veral op kerklike en kulturele gebied dat daar ‘n groot opbloei ontstaan het. Vele het daarop toegespits om hul beter te bekwaam vir die toekoms en vir die heropbou van land en volk na die oorlog. Die kerk, sending, onderwys en kultuurlewe sou veral baat vind by die kamp bedrywighede.

Naas konserte hou, is aandag gegee aan die herdenking van Volksfeeste, die aanleer van hand vaardighede, aan besinning oor die toekoms van die Afrikanervolk en oor nasionale vraagstukke wat opgelos moet word. Daar is gedig en dagboek geskryf.

Namate die oorlog aangesleep het, het die praatjies van vrede vermeerder. Spoedig was die krygsgevangenes oral in twee kampe verdeel:

diegene wat na vrede huiswaarts wou keer en
die onversetlikes, wat van geen oorgawe of eed van trou teenoor die Britse vors wou hoor nie.

Die gemoedere het in sommige kampe so hoog geloop dat die kamp owerheid die inskiklikes van die onversetlikes moes skei. Diegene wat bereid was om die eed van trou af te lê, is in die loop van 1902 gerepatrieer, dog die “swearnots” sou in sommige gevalle nog jare lank doringdraad kou. Teen die einde van 1904 was daar in Indië nog etlike honderde wat die eed van trou geweier het, sodat genl. De la Rey uiteindelik gestuur is om hulle tot ondertekening te beweeg. Enkeles het die eed nooit afgelê nie en verhuis na ander wêrelddele, soos die VSA, Duitsland en Java. Sommige het gebly. Die onversetlike Matthys Swart is in 1926 as finale bittereinder op die Bermuda-eilande oorlede. Aka fak C.M.B

No comments: