2008/04/19

1876 : 19 April Geskiedenis Spoor Vandag : St. Helena en Fort Napier


19 April
1876
Erich Mayer gebore


Ernst Karl Erich Mayer is in Karlsruhe, Duitsland, gebore. Hy ontvang sy eerste skoolonderrig in sy tuisdorp, en na matriek bestudeer hy argitektuur met tekene en skilderkuns as byvakke. As gevolg van ‘n longaandoening, wat ‘n siekbed van twee jaar meebring, word hy deur sy geneeshere aangeraai om na die droër klimaat van Suid-Afrika te verhuis. Hy vestig hom op Vrede in die OVS, waar hy diens aanvaar as assistant-landmeter. Mayer se noue kontak met die Afrikaner hier laat hom ‘n besondere toegeneentheid teenoor hulle verkry, wat hom lewenslank bybly. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog sluit hy hom vrywillig by die Boeremagte aan. Die buitelewe doen sy gesondheid goed, soseer dat sy wonderlike herstel in mediese vaktydskrifte vermeld word. Mayer se skilder talent kom hom op kommando goed te pas, waar hy sketse maak wat van groot waarde word.

In 1900 word hy krygsgevange geneem en na St. Helena gestuur. Hy maak ook hier van die geleentheid gebruik om sy skilderkuns te beoefen. Na die vredesluiting deurreis hy Suid-Afrika, maar skilder hoofsaaklik in die OVS en Transvaalse Laeveld, waar hy hom toespits op die mooi klein waterverf skilderytjie's, waarvoor hy later so bekend sou word. Tydens die Eerste Wêreldoorlog word hy geïnterneer en in Fort Napier, naby Pietermaritzburg, aangehou. Hier gebruik hy die tyd om sy kuns verder te ontwikkel.

In 1928 trou hy met Margaretha Gutter, wat self baie kunssinnig is, en saam deurreis hulle SWA drie jaar lank voordat hulle hulle in Pretoria vestig. Sy vrou open ‘n spin- en weefskool, en Mayer teken baie van die ontwerpe wat in die skool gebruik word. Hy word nou voltyds kunsskilder, en onder beskerming van die Universiteit van Pretoria hou hy ‘n uitstalling van sy werke, wat talle sketse en skilderye uit die tyd van die kommando dae en St. Helena insluit.

Hy het ‘n plek in die Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis verwerf met sy Nagmaal tonele by Nylstroom en die uitbeelding van die Boere op kommando. Een van sy geliefkoosde onderwerpe was die kremetartboom. Tot sy amptelike opdragte behoort die muurversierings in die personeel restourant van die Johannesburgse poskantoor, by die Johannesburgse Onderwyskollege en by die Hoërskool Monument, Krugersdorp. Die betekenis van Mayer se kuns lê daarin dat hy gesoek het na ‘n ware Suid-Afrikaanse kunsvorm, en dat hy bygedra het tot die ontwikkeling van kunswaardering in Suid-Afrika deur uitstallings op die platteland en deur gesprekke met die mense wat sy uitstallings bygewoon het, te voer. Erich Mayer was ‘n Duitser van geboorte, maar het hom volkome met die Afrikaanse kultuur vereenselwig. Hy en sy vrou was albei teenwoordig by die stigting van die FAK. Sy kunstalent getuig van sy liefde vir die mense en alle fasette van sy aangenome land. Hy bring sy laaste dae in ‘n huis vir bejaardes in Pretoria deur, waar hy op 10 Augustus 1960 sterf. Aka Fak G.v.d.W

No comments: