2008/02/09

Februarie 9

1841
Daniel Lindley as predikant van die gemeente Pietermaritzburg aangestel


Na jare van ontevredenheid met Erasmus Smit as predikant van die Voortrekkers – onder meer vanweë die feit dat hy dan nie voldoende opgelei en behoorlik bevoeg verklaar is om al die kerklike sakramente te bedien nie – is Daniël Lindley, die Presbiteriaanse Amerikaner formeel op hierdie dag as predikant van die gemeente Pietermaritzburg aangestel. Die Voortrekkers het reeds in 1836 met die Lindley-gesin by Mosega te doen gekry en na vêrdere ontmoetings steeds ‘n hoë dunk van hom behou. Dat die Kaapse NG Kerk hom in 1837 as Sinode aan die Voortrekkers onttrek en hulle trekdaad boonop afgekeur het, het natuurlik seergemaak en ook ongerief meegebring. Kinders is nie gereeld gedoop nie, die Nagmaal is nie gereeld bedien nie en kategetiese onderrig met die oog op belydenis van geloof, is soms lank vertraag. Nadat Lindley toe sy ordenings dokumente voorgelê het en dit goedgekeur is, het hy van 1 April 1841 af sy traktement van 1 333 riksdaalders per jaar van die staat ontvang. Erasmus Smit moes, Aldus Volksraadsbesluit op dieselfde 9 Februarie, sy emeritaat aanvaar en sou 600 riksdaalders per jaar pensioengeld ontvang. Lindley self het vroeër reeds die Hollands van die Voortrekkers geleer en hulle gevolglik in hulle eie taal van die Woord bedien. Vir die reeds gevestigde Natalse Voortrekkers soos Karel Landman, Andries Pretorius, Sarel Cilliers, Evert Potgieter en andere was Lindley se teenwoordigheid van onskatbare waarde. Aka fak M.J.S

1932
Dr. N.M. Hoogenhout oorlede

Nicolaas Marais Hoogenhout, bekende onderwysman, is op 9 Januarie 1876 op Wellington gebore as die oudste seun van die bekende C.P. Hoogenhout. Sy opleiding ontvang hy op Stellenbosch, waar die eer hom onder meer in 1899 te beurt val om die eerste Afrikaner te word wat die MA-graad in moderne tale verwerf. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Straatsburg, waar hy in 1902 tot doktor in die Germaanse Filologie promoveer. Soos sy vader, was hy ook ‘n kampvegter vir die Afrikaanse taal en kultuur. Onder sy voorsitterskap het ‘n dertigtal belangstellendes byvoorbeeld op 13 Desember 1905 in Pretoria besluit om die Afrikaanse Taalgenootskap te stig. Hy het ook ‘n merkwaardige stempel op die onderwys in Transvaal afgedruk. Hier begin sy loopbaan in 1904 as hoof van die Eendracht-skool in Pretoria, in een van die grootste CNO-skole van die tyd. Daarna word hy vise-hoof en sedert 1921 hoof van die Pretoriase Normaalkollege. Van 1922 tot 1928 is hy professor in die opvoedkunde van die Transvaalse Universiteitskollege (Later Universiteit van Pretoria), en van 1925 tot 1927 ook rektor van die inrigting. In 1928 word hy aangestel as Direkteur van Onderwys in Transvaal, ‘n pos wat hy tot sy dood beklee. Hy lewer ‘n waardevolle bydrae in die verenigingslewe van die Transvaalse onderwys- en kultuurlewe, terwyl sy besondere belangstelling in die taal weerspieël word in verskillende publikasies waarin hy ‘n aandeel gehad het. aka fak P.J.d.B

1940
J.M. Coetzee word in Kaapstad gebore


Suid-Afrikaanse skrywer en Nobelprys wenner.


1941
Dr. J.D. Kestell
Volksvriend Heengegaan op Sondagaand


Terwyl die vloedgolf van ‘n verwoestende oorlog oor die strande van Europa spoel, betreur ons in ons eie land die heengaan van vertroude volksvriende, wat ons in die tye wat ons nou belewe, beswaarlik kan ontbeer. Dr. J.D. Kestell, wat in oorlogs- en vredestyd sy volk met onbaatsugtige liefde gedien het, tot wie almal opgesien het om raad en hulp, het op Sondagaand 9 Februarie 1941, die ewige rus binnegegaan. Aan die voet van die Vrouemonument , naas sy lewenslange vriende, pres Steyn en Genl. De Wet, is sy stoflike oorskot deur dierbares en vriende ter ruste gelê.

Drie manne, verskillend van aard en karakter, van aanleg en insig, maar gelyk in hul onwrikbare vertroue op ‘n Almagtige God wat die lotgevalle van mense en volkere bestuur.

Nog ‘n opregte volksvriend wat ons in die midde van 1940 ontval het, is die digter Jan F.E. Celliers, wie se werk gedra word deur sy innige lotsverbondenheid met sy vaderland, sy liefde tot die natuur en sy medemens en sy innige godsvrug. Meer as ooit het sy volk die waarskuwing in sy gedig “Komaan!”, wat hy in 1912 geskryf het, nodig:

“Wees trou!
Daar’s ‘n volk te leer
Om homself te eer,
Te bou,
Om God, en God alleen, te vrees,
Aan aard en taal getrou te wees –
Gesond en waar van hart en gees,
Komaan!”


Twee maande na Jan Celliers se heengaan is op Sondag, 11 Augustus, dr. N.J. van der Merwe op slegs twee-en-vyftigjarige leeftyd oorlede. Onverwags, te midde van die stryd vir wat hom bo alles dierbaar was, ‘n vrye en onafhanklike republiek, het sy kragtige gestalte uit ons volkslewe verdwyn, Hy was soos die leier in Jan Celliers se gedig, ‘n leier wat geweet het:

“Daar’s nie na guns of eer te kyk,
Daar’s nie na links of regs te wyk …”


Ook in die buiteland het ons land met die heengaan van dr. W.J. Leyds ‘n goeie vriend verloor. Terwyl die oorlogsrumoer nog oor sy land gedreun het, is hierdie gryse staatsman in die ouderdom van twee-en-tagtig jaar oorlede. Opregte vriend van pres Kruger, het hy as staatsekretaris en as buitengewone gesant van die Suid-Afrikaanse Republiek in Europa met hart en verstand gewerk vir die vryheid van die Republiek. Na die ondergang van die Republieke het hy in sy geskiedkundige oorsigte en sorgvuldige bronne publikasies belangrike inligting beskikbaar gestel, sodat die ware toedrag van die geskiedenis nie verlore sal wees nie.

Weer eens is Jan Celliers se woorde van toepassing op hierdie manne wat ons deur die dood ontval het:

“Hul lewensweg het ons gewys
om trou te wees aan waarheids eis…”


1959
Die Witwatersrandse Musiek genootskap gestig


Op aandrang van die Afrikaanse Skakelkomitee van Johannesburg en in oorleg met die Johannesburgse Afrikaanse Musiekomitee wat ‘n onderkomitee van die Skakelkomitee was, is besluit om die Johannesburgse Afrikaanse Mosiekomitee om te skep in ‘n koördinerende liggaam van alle verenigings en organisasies wat by die musiekkultuur van die Afrikaner in Johannesburg belang het. Die doelstellings van die Genootskap is:

a) Om in die algemeen die musiekkultuur te beoefen.
b) Om veral in die Afrikaanse gemeenskap belangstelling in die musiek en
aanverwante kunste op te wek en musiek- en kunswaardering te bevorder.
c) Om die beoefening van musiek in al sy vorme, en ook van die aanverwante kunste, veral in die Afrikaanse gemeenskap te bevorder. Aka fak O.B

1965
Geskiedenis komitee van die FAK gestig


Die Hoofbestuur van die FAK het sy Geskiedenis komitee tot stand gebring om hom te adviseer oor die bevordering van vaderlandse geskiedenis deur die vermeerdering van kennis van die aankweek van liefde en trots vir die volks verlede, die bevordering van Geskiedenis as vak op skool, kollege en universiteit, en die reëling van en bepaling van temas vir Afrikaanse volksfeeste FAK

No comments:

Post a Comment