2008/02/05

Februarie 5, 1856; 1915; 1937; 1951

1856
G.A. Ode gebore


Gabriël Adolf Ode is te Schiedam, Nederland, gebore. Hy word onderwyser, verhuis in 1890 na die Transvaalse Republiek en word daar in 1891 as waarnemende sekretaris van onderwys benoem. Op 1 Januarie 1894 is hy benoem, tot amptelike geskiedskrywer maar kan sy opdrag, die opstel van ‘n Geskiedenis van die Republiek, nie uitvoer nie. Nietemin het hy deur die neerpen van Herinneringe van nog lewende Voortrekkers ‘n bruikbare bron van inligting vir latere historici byeengebring. Op 31 Julie 1895 is hy, na onverkwiklike rusies met drr. Leyds, Mansvelt en Engelenburg ontslaan en op 11 Desember 1897 in Pretoria oorlede. Aka fak dr. J.H.Breytenbach


1915
Suid-Afrika en Suidwes-Afrika


Genl. Louis Botha vertrek op 5 Februarie 1915 na Suidwes-Afrika om bevel oor te neem oor die Unie troepemag wat die gebied van Duitsland sou verower. Daardeur is Suidwes-Afrika aan Suid-Afrika verbind en is ‘n informele verbintenis wat reeds lank tussen die twee gebiede bestaan het op ‘n formele grondslag geplaas. Die Kaapstadse burger, Jacobus Coetse, het op 14 Julie 1760 van sy woonplaas by die Piketberge vertrek op ;’n reis wat hom na sowat 50 dae tot aan die Bunsenberg (deur hom Swartberg genoem) net noord van Warmbad in die (toe) huidige Suidwes-Afrika gevoer het. Teen die einde van Augustus het hy die Grootrivier oorgesteek, “ die bij der Relatanten weeten bevoorens door geene Europische Natie gepasseerd weesende …” Hierdie gebeurtenis het die blankes, en by name die Afrikaners, met Suidwes-Afrika in verbinding gebring en tot vêrdere verkennings reise deur Hendrik Hop, Willem van Reenen en ander aanleiding gegee. Sendelinge van die Londense Sendinggenootskap het vroeg in die 19de eeu gevolg, die Rynse Sendinggenootskap het in 1840 tot SWA toegetree en sedert die veertigerjare was jagters en handelaars in toenemende getalle aanwesig in hierdie uitgestrekte gebied noord van die Oranje, wes van die Kalahari en suid van die Portugese invloedsfeer in Angola. Terwyl die Britse bewind in die Kaapkolonie die gebied rondom Walvisbaai in 1878 geannekseer en Duitsland sy gesag sedert 1884 oor SWA gevestig het, het Afrikaners hulle geleidelik daarheen begewe en hulle veral in die suide gevestig. Aansienlike getalle trekkers uit Transvaal het gedurende die sewentigerjare onder groot ontberings deur die Kalahari-dorsland na Angola getrek en teen 1884 na Grootfontein teruggekeer, waar hulle hulle tydelik gevestig het. Na afloop van die Engelse Oorlog in 1902 het heelwat Afrikaners hulle in SWA gaan vestig. Die Afrikaners is deur die Duitse bewind toegelaat om hulle eie skole te stig en veral die NG Kerk van Kaapland het deur middel van bearbeidingsreise, hoewel gebrekkig, aandag aan die geestelike behoeftes van die wydverspreide gemeenskappe gegee. Die eerste gemeente in SWA, Groot Namaqualand, is in 1898 gestig, maar weens die probleme om ‘n vaste predikant te kry, het die sendelinge van die Rynse Sendinggenootskap dikwels belangrike hulp verleen. Naas ander geestelike arbeiders speel eerw.. E.J. Leonard ‘n besonder belangrike rol. Die verowering van Suidwes-Afrika in 1915 deur die Unie het die land vir baie Afrikaners aanloklik gemaak en hulle getalle het sodanig toegeneem dat hulle mettertyd sowat 70% van die blanke bevolking uitgemaak het. Die Afrikaners in SWA speel deur die jare heen ;’n belangrike rol, veral in die skaap- en beesboerdery, die visbedryf en die administrasie van die land. Hollands-Afrikaans as taal is deur Nama- en Bastergroepe vanuit die Kaapkolonie na SWA gebring sodat selfs die Rynse sendelinge van die medium in hulle werk gebruik moes maak. Vandag is Afrikaans die taal waarmee dwarsoor die land gekommunikeer kan word. Naas die skole en die verskillende Afrikaanse kerke lewer kultuurorganisasies soos die FAK se Gebiedskultuurraad vir SWA en die Rapportryers ‘n belangrike bydrae om die Afrikaanse kultuur op natuurlike wyse te voed. SWA is egter ‘n land van vele kulture waarvan elk sy plek naas die ander het. Die internasionale twis oor die posisie van die land het interne ontwikkeling gestimuleer wat daarna streef om aan elke groep in die gebied naas die ander, maar ook saam met hulle, ‘n toekoms te verseker. Aka fak prof. dr. E.L.P.Stals

1937
Ds. J.J. Kühn oorlede


Ds. Josephus Johannes Kühn, gebore op 15 Maart 1881, was ‘n NH predikant, welsprekende kanselredenaar en begaafde digter. Hy het belangrike werk gelewer vir die eerste Afrikaanse Psalmberyming en die tweede beryming van Ps. 130 is van sy hand. Aka fak prof. dr. A.D.Pont

1951
Theo Wendt oorlede


Theo Wendt is op 22 Augustus 1874 in Londen gebore. Hy was die eerste dirigent (1914 tot 1924) van die Kaapstadse Simfonieorkes, daarna was hy van 1924 tot 1927 die eerste musiekdirekteur van die pas gestigte uitsaai-organisasie in Johannesburg en die laaste jare van sy lewe was hy hoofdirigent van die SAUK se simfonieorkes. Hy was ook ‘n komponis van naam en het ‘n belangrike rol in die musieklewe van Suid-Afrika gespeel. Aka fak prof. dr. A.C.Hartman

No comments: