1871
Eugene Marais gebore
Eugene Nielen Marais beklee ‘n unieke plek in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis. As koerantredakteur doen hy reeds van 1890 af belangrike voorbereidingswerk vir die Tweede Taalbeweging. Na die dood van sy vrou vertoef hy ‘n lang ruk in die buiteland en praktiseer dan in Pretoria as advokaat. In die tyd skryf hy ‘n paar gedigte, waaronder Winternag, wat hom groot beroemdheid besorg het: baie jare is hy as “voorloper” van ons digkuns beskou. Van 1907 tot 1917 is hy vrederegter in die Waterbergdistrik, waar hy studie van miere, bobbejane en dies meer in hulle natuurlike omgewing maak – ‘n studie wat later in internasionaal erkende geskrifte neerslag vind. Van 1922 tot 1927 praktiseer hy as prokureur op Heidelberg, waar hy onder aanmoediging van A.G. Visser van sy beste gedigte skryf. Die laaste jare tot met sy dood woon hy by Gustav Preller. Marais sal altyd onthou word om die plek wat hy in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis beklee, om gedigte soos Winternag, Waar Tebes in die stil woestyn en Die dans van die reën, en om werke soos Die Heks en veral Dwaalstories. Hy is op 29 Maart 1936 oorlede. Aka fak prof. dr. J.H. Senekal

Winternag
O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.
O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van 'n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk grashalm se vou
blink 'n druppel van dou,
en vinnig verbleik dit
tot ryp in die kou!
Dans van die reën
O, die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies,
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy,
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof is groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore in die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies;
"Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!"
En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!
1919
Prof. P. du P. Grobler gebore
Philippus du Plessis Grobler is in Middelberg, K.P. gebore. Hy word die eerste professor van Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Natal in Durban. Benewens uitnemende werk as letterkundige, het hy bekendheid verwerf as radioman en toneelspeler, en daardeur ‘n besondere bydrae tot die uitbouing van die Afrikaanse toneel lewe in Natal en die radio teater in die algemeen gelewer. Aka fak prof. dr. C.J.M. Nienaber
1925
Ds. W.J. Conradie oorlede
Willem Johannes Conradie was predikant van die NG Kerk wat met besondere skryftalent die eerste Afrikaanse Kinderbybel in 1912 uitgegee het onder die titel Bybelgeskiedenis vir ons volk. Die boek het groot byval gevind en is in baie skole gebruik. Sy Sketse uit die Boerelewe, wat in 1915 en 1916 in De Burger verskyn het, is van groot volkskundige belang, want dit skets die lewe op die boereplase van blank en gekleurd en van gebruike en gewoontes wat uitgesterf het. In 1890 het hy in De Volksbode oor Afrikaans geskryf: Hij zal groot worden en de plaats van vreemde vrienden innemen in onze harten, in onze Huizen, op onze kansels. Zijn naam zal sijn: De Afrikaanse taal. Ds Conradie is op 19 Mei 1857 op Murraysburg gebore en is op Stellenbosch oorlede. Aka FAK
1931
Genl. J.G. Celliers oorlede
Johannes (Jan) Gerhardus Celliers is op 21 Julie 1861 in Fraserburg gebore, maar vestig hom reeds as jongeling in Transvaal, waar hy in 1880/81 saam met die Marico-burgers aan die Transvaalse Vryheidsoorlog deelneem. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog was hy aan die Krugersdorpse polisie verbonde, en hy neem aktief aan die oorlog deel. Die wyse waarop hierdie /Boeregeneraal die Britse kanonniers buite aksie gestel het, het aan hom wye bekendheid besorg. Hy staan ook bekend as die vader van die aanvalsmetode om in volle jaaggalop te skiet. Aka fak prof. dr. J.C. Moll
1940
Adv. Strijdom en die republikeinse ideaal
Die jaar 1940 is gekenmerk deur vergeefse pogings wat aangewend is om die Afrikanerdom polities te verenig. Te midde van hierdie onsekere krisistye het adv. J.G. Strijdom, leier van die Nasionale Party in Transvaal, dit sterk beklemtoon dat Afrikanereenheid alleen op ‘n duidelike en ondubbelsinnige republikeinse grondslag verkry kan word. Hierdie wekroep van Strijdom is op 9 Januarie 1940 deur die spreekbuise van die Nasionale Party uitgedra. Adv Strijdom het naamlik op 8 Januarie op Morgenzon verklaar dat die republikeinse doelstelling van die Afrikaner nie ter wille van eenheid verwater mag word nie, omdat dit dan tot nog groter verdeeldheid aanleiding sal gee. Die republikeinse strewe moes dus dien as die saambindende faktor. Aka fak H.O. Terblanche
No comments:
Post a Comment