2008/01/22

Januarie 22

1837
Retief manifes


Op hierdie dag in 1837 is een van die waardevolste dokumente in ons land se geskiedenis voltooi. Dit is die Retief manifes wat names die emigrante boere in Hollands geskryf is, en waarin die dwalinge aangaande, die oorsake van en doel met die Groot Trek vir die buitewêreld uiteengesit word. Dit is volledig in die Graham’s Town Journal van 2 Februarie 1837 in Engels weergegee nadat uitdruklik om sodanige publisiteit gevra is. Al sou Piet Retief slegs hierdie skryf daad verrig het, sou hy nog steeds histories hoog aangeslaan gewees het. Dit is immers ‘n eietydse dokument, wat deur ‘n baie betrokke en geloofwaardige getuienis opgestel is. Retief beweer hierin dat allerlei berigte versprei is om die Trekkers by vriend en vyand in onguns te bring. Sy Manifes moet die beeld van die Voortrekkers herstel en almal laat besef dat die Christengelowige nie sommer sy band met sy geboortegrond breek as daar nie besonder oortuigende redes daarvoor bestaan nie. Die Manifes moet ook lig werp om die voornemens ten opsigte van inboorlingstamme.

“Piet Retief se “Manifes”
Grahamstad, 22 Januarie 1837

Aangesien daar talryke rapporte deur die hele Kolonie versprei is, blykbaar met die doel om vooroordeel op te wek in die gedagtes van ons medeburgers teen diegene wat besluit het om vaarwel te sê aan die Kolonie waarin hulle soveel jare ‘n hele reeks ergerlike en ernstige verliese gely het: en aangesien dit ons begeerte is om hoog te bly staan in die waardering van ons broeders, en ons begerig is dat hulle en die wêreld ons nie in staat moet ag om so ‘n heilige band te verbreek as wat die Christen aan sy geboortegrond verbind sonder om daartoe die volledigste redes te hê nie; so word ons genoop om die volgende kort uiteensetting te boekstaaf van die oorsake wat ons beweeg om so ‘n stap te doen, en van ons voornemens aangaande ons optrede ten opsigte van die swart stamme waarmee ons in aanraking kan kom anderkant die grens:

1. Ons wanhoop daaraan om die Kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige en oneerlike gedrag van vabonde, wat toegelaat word om alle dele van die land te verontrus; en ons sien geen vooruitsig op vrede en geluk vir ons kinders in ‘n land wat op die manier gekwel word deur inwendige beroeringe nie.

2. Ons kla oor die gevoelige verliese wat ons genoodsaak is om te ly deur die vry verklaring van ons slawe, en die ergerlike wette wat gemaak is met betrekking tot hulle.

3. Ons kla oor die stelselmatige en aanhoudende plundering wat ons hier moet verduur van die swart stamme en ander gekleurdes, en veral deur die laaste inval in die Kolonie wat die grens distrikte verwoes en die meeste inwoners geruïneer het.

4. Ons kla oor die onregverdige blaam wat daar op ons gelê is deur belanghebbende en oneerlike mense onder die dekmantel van godsdiens – mense wie se getuienis in Engeland geglo word tot uitsluiting van alle bewyse in ons voordeel; en ons voorsien as gevolg van hierdie vooroordeel niks anders as die totale ondergang van die land nie.

5. Ons is vasbeslote om, waar ons ook al mag gaan, die beginsel van ware vryheid hoog te hou; dog, waar ons sal sorg dra dat niemand in ‘n toestand van slawerny gehou word nie, is dit ook ons besliste voorneme om behoorlike wette te maak ter onderdrukking van misdaad, en om ‘n behoorlike verhouding te bewaar tussen heer en diensbode.

6. Ons verklaar plegtig dat ons hierdie Kolonie verlaat met die begeerte om ‘n rustiger lewe te lei as waartoe ons tot nog toe in staat was. Ons sal geen volk molesteer nie, en aan niemand die geringste eiendom ontneem nie, maar word ons aangeval, sal ons ons as ten volle geregverdig beskou om ons lewe en eiendom te verdedig tot die uiterste toe teen enige vyand.

7. Ons maak bekend dat wanneer ons vir ons toekomstige leiding behoorlike wette neergelê het, afskrifte daarvan na die Kolonie gestuur sal word ter algemene inligting; maar ons neem hierdie geleentheid tewens te baat om te verklaar dat dit ons vaste besluit is om voorsiening te maak vir summiere bestraffing, selfs met die dood, van alle verraaiers wat daar onder ons mag wees.

8. Ons is voornemens om in die loop van ons trek, en wanneer ons aangekom het in die land waar ons gaan woon, ons bedoelings bekend te maak aan die inboorlingstamme, asook ons begeerte om in vrede en vriendskap met hulle te leef.

9. Ons verlaat die Kolonie met die volle sekerheid dat die Engelse owerheid niks meer van ons te vorder het nie en ons sonder vêrdere bemoeiing sal toelaat om ons sake in die toekoms self te bestuur.

10. Ons vertrek nou uit ons vrugbare geboorteland, waar ons enorme skade gely het en voortdurend blootgestel was aan ergernis, om ons te gaan vestig in ‘n woeste en gevaarlike gebied; maar ons gaan met ‘n vaste vertroue op ‘n alsiende, regverdige en genadige Wese wat ons altoos sal vrees en in alle nederigheid probeer gehoorsaam.

Piet Retief.”
FAK

1909
Dr. P.J. Meyer gebore


Pieter Johannes Meyer is op Ladybrand gebore. Dr. Meyer het reeds van sy jeugjare af in die aktiewe kultuurlewe van die Afrikaner belang gestel, en hy was nog voor sy mondigwording een van die stigterslede van die FAK in 1929. Dit was veral in die jare dertig dat hy landwyd in die brandpunt van die Afrikaner se kultuurstryd gestaan het as stigterslid en eerste voorsitter van die Afrikaanse Nasionale Studentebond in 1933, vandag die ASB, hulpsekretaris van die FAK in 1936 en hoofsekretaris van 1937 tot 1943. In die hoedanigheid het hy die Eerste Ekonomiese Volkskongres in 1939 gereël en uitvoering aan die besluite gegee: Die stigting van die Ekonomiese Instituut, die Reddingsdaadbond, waarvan hy die aanvanklike hoofleier was, die oprigting van die Afrikaanse Handelsinstituut en van Federale Volksbeleggings. Hy het in 1939 ook die FAK se Volkskongres oor Onderwys en Opvoeding gereël en die Boere-Hulpfonds in 1940 van stapel laat loop. Daarna was hy onder meer voorsitter van Antikom en van die Maatskappy vir Europese Immigrasie en van 1959 to 1967 lid van die FAK se uitvoerende Komitee. Onder sy leiding het die Randse Afrikaanse Universiteit tot stand gekom, en hy word voorsitter van die RAU se Universiteitsraad. In 1978 word hy die universiteit se tweede kanselier na die afsterwe van dr. N. Diederichs. In Augustus 1959 word dr. Meyer voorsitter van die Beheerraad van die SAUK. Uit erkentlikheid vir sy jare lange toewyding en werk aan die Afrikaner se kultuurstrewe, ken die FAK in 1971 sy Erepenning vir Volksdiens aan dr. Meyer toe. FAK

No comments:

Post a Comment