2008/01/16

Januarie 16

1812
J.A. Smellekamp gebore


Deur sy optrede het die Amsterdamse handelspionier Johan Arnold Smellekamp die eerste belangstelling vir die stamverwante Voortrekkers in Nederland laat ontstaan. Reeds in 1841 het hy in diens van ‘n Amsterdamse handelshuis na Port Natal gevaar om handelsbetrekkinge met die Natalse Voortrekkers aan te knoop. Hy is hartlik ontvang, juis op ‘n kritieke tydstip toe die Emigrante-Boere bedreig is deur ‘n moontlike Britse besetting. Daardeur is hy ook in die politiek betrek, en ‘n brief is aan hom oorhandig met die besluit van die Volksraad dat Natal as koloniale besitting aan Willem II van die Nederlande aangebied sou word ingeval Engeland weer sy “ysere-septer” oor Natal sou swaai. In 1854 het hy hom permanent in Suid-Afrika gevestig op ‘n tydstip toe die jong Boererepublieke moeilike groeipyne beleef het. Weens sy opvlieënde temperament het hy egter oral vyande gemaak, en hy is weens ‘n kerklike twis uit die ZAR verban. In Oktober 1854 is hy as landdros in Bloemfontein aangestel. Die laaste drie jaar van sy lewe het hy nuttige diens as Volksraadslid gelewer in ‘n jong republiek waar ‘n groot behoefte aa meer geleerde persone was. Hy is op 25 Mei 1866 oorlede. Aka fak prof. dr. J.C. Moll

1812
J.W. (Oom Willem) van der Rijst gebore


Jan Willem van der Rijst, ‘n Hollander van geboorte, speel ‘n belangrike rol in die geskiedenis van die Eerste Taalbeweging. Hy is as onderwyser opgelei, maar word in 1861 as sendeling in die NG Kerk toegelaat. In Februarie 1862 word hy as sendeling en onderwyser in die gemeente Wynberg aangestel nadat hy ook ‘n rukkie op Calvinia werksaam was. Aanvanklik was hy ‘n verbete teenstander van Afrikaans, maar onder invloed van Oom Lokomotief word hy ‘n vasbeslote kampvegter daarvoor. Hy pak die eerste Spel- en Leesboek vir Afrikaanse kinders in 1878 aan. Daarna skryf hy ook Samesprake in Afrikaanse en Engels. Albei hierdie boekies verkoop besonder goed. Oom Willem, die skuilnaam waaronder hy geskryf het, behaal ook buitengewone sukses met sy preke wat eers in Die Patriot en in 1884 en 1885 in twee bundels onder die titel Evangeli in di volkstaal in druk verskyn. Saam met ds. P.D. Rossouw van Fraserburg, is hy die eerste wat dit waag om preke in Afrikaans te skryf. In 1886 verskyn ‘n godsdienstige verhaal So gaat dit ook uit sy pen. Oom Willem is op 13 Desember 1904 in Nederland oorlede. Aka fak dr. P.J. De Beer


1896
Eerste Afrikaanse Taalkongres gehou:
Stigting van Ons Klyntji


Op 14 Augustus 1895 is op die twintigste Jaarfees van die Genootskap van Regte Afrikaners besluit om ‘n eerste Afrikaanse taalkongres te reël, wat op 15 en 16 Januarie 1896 in die Paarlse stadhuis gehou is om saam te val met die twintigste verjaardag van Die Afrikaanse Patriot. Ongeveer 100 verteenwoordigers uit alle dele van die land het vergader onder voorsitterskap van ds. S.J. du Toit. Prof Cachet het as eerste spreker die beginsel van ons skryf soos ons praat onderskryf en voorgestel dat ‘n tydskrif uitgegee word om die beweging te bevorder. Talle sprekers spreek hulle op hierdie kongres uit ten gunste van Afrikaans as spreek- en skryftaal en uit hulle getuienis kan die vreugde van ‘n eie taal gelees word. Soos mnr. P. Scholtz dit saamvat. “In Hollands voel hy hom nes in ‘n pak klere wat te groot is. In Afrikaans was hy tuis.” Daar word besluit om Afrikaans te hou soos wat die taal in Die Patriot gegroei het en dit nie nader aan Nederlands te probeer bring nie. ‘n Kommissie is aangestel om die wenslikheid van ‘n Afrikaanse woordeboek en ‘n vergelykende taalkunde tussen Afrikaans en Engels te ondersoek, wat die volgende dag rapporteer dat so ‘n stap gewens is. Punte in verband met die spelling van Afrikaans is ook bespreek, maar is later aan ‘n kommissie vir besluit oorgelaat. Verder is die kwessie van Afrikaans as skool- en kerktaal bespreek waarby vurige pleidooie ten gunste van Afrikaans gelewer is. Die belangrikste besluit wat op hierdie kongres geneem is, is die uitgee van ‘n eie Afrikaanse tydskrif, waarvoor ‘n kommissie benoem is om ook geld vir die doel in te samel. Daar is op die tweede dag van die kongres besluit dat die tydskrif veral aandag sal wy aan die Afrikaanse letterkunde, en dit sou ‘n “Blad ver di huisgesin wees, ‘n ware huisvrind”. Op voorstel van prof. Postma is die maandelikse tydskrif gedoop Ons Klyntji. Reeds op hierdie vergadering is 500 intekenaars gewaarborg en geesdrif vir die tydskrif het hoog geloop. Hierdie taalkongres was ‘n mylpaal in ons taalgeskiedenis, daar dit die eerste groot vergadering van voorstanders van Afrikaans was en vrug gedra het in die vorm van die eerste tydskrif in Afrikaans. Aka fak prof. dr. P.G. Nel

No comments: