2007/12/30

Desember 31

Tradisionele Oujaars-gebruike

Dit is ‘n baie ou Afrikaanse gebruik wat reeds uit die eerste kwart van die negentiende eeu dateer om op Oujaar fees te vier en die nuwe jaar in te lei met jolyt. Die gebruik om die nuwe jaar om middernag met kanonskote, geweervuur en vuurwerke aan te kondig, is deur Van Riebeeck en sy mense na Suid-Afrika gebring. Kwajongstreke op Oujaarsaand is ‘n baie ou gebruik, maar die Boeredans is seker die diep geworteldste gebruik, met die Boere-orkes en die konsertina onafskeidbaar. Dit was die aand waarop die vrouens uitgehang het met hulle melktert, handtertjies, nuwejaarsbolle en soveel ander gebak. Nuwejaarsdag was piekniek dag met Boeresport en perderesies. Die mooi gebruik om ‘n middernag diens te hou, is nie gegrond op ‘n Bybelse voorskrif nie en is ook nie ‘n deel van die kerklike jaar nie. Tog is dit een van die goeie tradisionele gebruik om die jaar met ‘n kerkdiens af te sluit en die nuwe jaar op dieselfde wyse te begin. By die geleentheid kyk die gelowiges in ootmoedige dankbaarheid teenoor die Here terug oor die afgelope jaar en vertrou hulle hul aan God se sorge en leiding toe vir die komende jaar. Die diens strek daarom gewoonlik vanaf die laaste gedeelte van die ou jaar tot in die eerste minute van die nuwe jaar. Middernag dienste word gewoonlik in groot getalle bygewoon en bied die geleentheid om deur die prediking menige gelowige tot hernieude toewyding te lei. Aka fak ds. H. Cronje

1807
Pres. J.P. Hoffman gebore


Die eerste President van die Oranje-Vrystaat, Josias Philippus Hoffman, was ironies genoeg, nie in hart en niere ‘n oortuigde republikein nie. Gebore op Stellenbosch, vestig hy hom eers in 1940 in die Transgariep. In 1848 en daarna berus hy aanvanklik in die uitbreiding van die Britse gesag oor hierdie gebied. Hy sou eers na 1853 van sienswyse verander, en onder sy voorsitterskap word die Bloemfontein-Konvensie in 1854 onderteken. Hierna maak hy snelle politieke opgang in die onafhanklike Oranje-Vrystaat. En in September 1854 word hy as eerste President ingehuldig. Ten gunste van hom tel die feit dat hy reeds ‘n hegte vriendskap met Mosjesj, die Basoeto-opperhoof, gesmee het. Gedurende sy kort ampstermyn sou hy dan ook poog om ‘n vredes beleid te volg – vandaar sy persoonlike samesprekings met die inboorling hoofde soos Mosjesj en Adam Kok. Op besoek aan Mosjesj in Augustus 1854 skenk hy aan die opperhoof ‘n klein vaatjie kruit van 50lb, ter vervanging van die kruit wat gebruik is vir sy verwelkoming. In die oë van die talle Vrystaters was dit ‘n uiters ernstige oortreding. Boonop het Hoffman hierdie skenking in sy verslag aan die Volksraad nie vermeld nie. ‘n Vertrouenskrisis het ontstaan, en onder druk het Hoffman in Februarie 1855 bedank. Hy is op 13 Oktober 1879 op sy plaas Slootkraal, in die distrik Wepener, oorlede. Aka fak H.O. Terblanche

1904
Dr. S. Meiring Naude gebore

Stefan Meiring Naude is op De Doorns gebore. Van 1931 tot 1945 is hy verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch, vanaf 1934 as professor in Fisika. In 1946 tree hy tot die WNNR toe as direkteur van die Nasionale Fisiese navorsings-laboratorium. In 1950 word hy vise-president en in 1952 president van die WNNR. In 1971 word hy aangestel as Wetenskaplike Raadgewer van die Eerste minister. Dr. S.M. Naude is die skrywer van ongeveer 60 referate en artikels oor die fisiese chemie, atoom- en molekulêre spektra. Hy was voorsitter van verskeie organisasies, o.m. die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, waarin hy ‘n baie aktiewe rol gespeel het as voorsitter (1967 - 1969) en lid van die Akademieraad, lid van die Fakulteitsraad Natuurwetenskap en Tegniek en voorsitter van die Finanskommissie. In 1951 ontvang hy die hoogste toekenning vinne die Fakulteit Natuurwetenskap en Tegniek van die Akademie, nl. Die M.T. Steynprys vir Natuurwetenskaplike en Tegniese Prestasie. Gedurende 1977 word erelidmaatskap van die Akademie aan hom toegeken uit erkentlikheid vir baie jare se onvermoede arbeid en grootse bydrae aan die Akademie.
Aka fak dr. D.J.C. Geldenhuys

1905
Wena Naude gebore

Agnes Alwena (Wena) Naude, wat die eretitel “liefling van die Afrikaanse toneel” verwerf het met haar diens aan die Afrikaanse beroepstoneel, veral in die moeilike aanvangsjare, met die suiwerheid en element van waaragtigheid in haar spel, met haar veelsydigheid, met haar eerbied en piëteit teenoor die rol wat sy vertolk, teenoor haar medespelers, teenoor die skrywer en sy woord, teenoor haar regisseur, het in 1975 haar goue jubileum op die Afrikaanse toneel (sy was ook bestuurslid van die FAK se Toneel bond van 1936), het sy haar loopbaan in 1925 in Pretoria begin onder Paul de Groot. In die vyftigerjare het sy hoor ook onderskei as rolprentaktrise van formaat. Sy is in Volksrust gebore en op
6 September in Pretoria oorlede. Aka fak M.J. Grobbelaar

No comments:

Post a Comment