2007/12/30

Desember 30

1691
Eerste Franse kerkraad benoem


Nadat kommandeur Simon van der Stel die Hugenote se versoek om ‘n eie gemeente en kerkraad afgewys het, staan die Here XVII dit toe, en einde 1691 word drie ouderlinge en vier diakens vir die nuwe gemeente Drakenstein benoem. Die invloed hiervan was egter kort van duur. Aka fak ds. H.C. Hopkins

1831
Eerste uitgawe van Graham’s Town Journal verskyn


In 1820 het die Britse Setlaars ‘n houtperd met hulle saamgebring, maar die owerheid wat gevrees het dat daarmee die openbare mening aan die Oosgrens verenig kan word, het die pers gekonfiskeer. ‘n Tydlank is dit vir regeringspublikasies in Graaff-Reinet gebruik, totdat Louis Henri Meurant dit op ‘n veiling in 1831 gekoop het. Op 30 Desember 1831 het die eerste uitgawe van die Graham’s Town Journal verskyn en gou sou dit in die omgang tot die “Setlaars Bybel” gedoop word. As die enigste koerant tot 1840 buite die Kaapse Skiereiland, het dit as die spreekbuis van die Oosgrens se blankes ‘n groot invloed gehad. Juis vanweë die blad se kritiese houding jeens die Kaapse owerheid, het dit ‘n besondere rol gespeel om die griewe van die Oosgrens boere in woorde gestalte te gee. Hierin het Piet Retief in Januarie 1837 sy bekende manifes laat verskyn, en het die Voortrekkers deur private briewe, reisigersverslae, smouse, ens., nuus aangaande hulle vordering, wense en teenslae aan die beskaafde wêreld bekend gemaak.
Aka fak prof. dr. J.L. Hattingh

1877
Adv. J.H.H. de Waal gebore


Jan Hendrik Hofmeyr (Jannie) de Waal is op Bakkerskloof, Somerset-Wes, gebore. Nadat hy sy opleiding in Kaapstad voltooi en ‘n tyd lank in die onderwys gestaan het, vertrek De Waal in 1894 na Londen om hom daar as advokaat te bekwaam. Terug in Suid-Afrika seder 1897, sou hy die eerste advokaat word wat ‘n saak in die hooggeregshof in Afrikaans bepleit. In April 1903 aanvaar hy die redakteurskap van die maandblad De Goede Hoop. Aangesien hy ‘n groot voorstander van Afrikaans as skryftaal is, maak hy wel deeglik gebruik van sy posisie om self verhale te skryf, onder meer Johannes van Wyk, wat eers as vervolgverhaal in sy tydskrif verskyn onder die skuilnaam “Janni”. In 1906 verskyn dit in boekvorm as eerste Afrikaanse historiese roman. So verskyn ook ‘n aantal toneelstukke, waarvan Angelina die eerste is. Adv De Waal was ‘n stigterslid van die Afrikaanse Taalvereniging, wat in 1906 in Kaapstad gestig is. Hy word in 1907 lid van die ATV se Spellingskomitee wat die Afrikaanse spelreëls moes vasstel. Nieteenstaande teenstand het De Goede Hoop onder De Waal se leiding in krag toegeneem en het hy die Afrikaanse taal saak trou gedien tot 1914, toe hy as redakteur afgetree het. Van 1915 af tot 1933 is hy die Nasionale Party se Volksraadlid vir Piketberg. Nadat hy sedert 1924 Adjunk-speaker was, word hy in 1929 tot Speaker van die Volksraad verkies. As erkenning vir sy volksdiens, ontvang hy in 1936 ‘n eredoktorsgraad in die lettere van die Universiteit van Pretoria. Adv. De Waal is op 30 Oktober 1937 in Kaapstad oorlede. Sy geskrifte in Afrikaans, soos ook Oupa en sy kleindogters en Die tweede Grieta, het ons taal op ‘n belangrike tydstip help vestig en verryk. Aka fak dr. P.J. de Beer

1907
Prof. Geof Cronje gebore


Geoffrey Cronje, wat op die dag gebore is, het diep spore getrap in die maatskaplike opheffing van die Afrikaner en verskeie bakens geplant op die weg van welsyn bevordering. Hy was bykans dertig jaar lank betrokke by die werk van die FAK en het ‘n leidende rol gespeel in die FAK se Volkskongres oor Maatskaplike Beleid, die Volkskongres oor Rasseverhoudinge en die Ekonomiese Volkskongres in die jare dertig. Hy was tot 1977 tien jaar lank lid van die FAK se Hoofbestuur. Sy belangstelling in die toneelkuns het hom ook in rigtinggewende posisies geplaas: voorsitter van die toneel komitee en raadslid van Truk, en eerste voorsitter van die FAK se Teater-, Televisie- en Rolprent komitee. Hy het steeds leidende akademikus gebly en was vyf termyne lid (waarvan een as voorsitter) van die Akademieraad van die SA Akademie vir Wetenskap en kuns. Aka FAK

No comments: