2007/12/29

Desember 29

1811
Moord op landdros Anders Stockenström


Die Grensoorlog 1811 was in volle gang toe landdros Anders Stockenström van Graaf-Reinet (wat op 6 Januarie 1757 in Filipstad, Swede, gebore is) hierdie dag teen sonsondergang sy posisie aan Bruintjeshoogte met 24 man in ‘n suidwaartse rigting verlaat, met die doel om samesprekings met kol. Graham te gaan voer. Op Doringnek in die Suurberg het hul ‘n aantal Kôsas van die Imidangestam teëgekom. Stockenström, wat op sy gewildheid as vriend en weldoener onder die swartes staatgemaak het, het ongewapend van sy perk geklim en in ‘n lang gesprek die Kôsas oorreed om die Kolonie vreedsaam te verlaat. Ongemerk is die groepie wit mense omsingel en onverwags aangeval. Stockenstrôm self, agt burgers en ‘n baster tolk is gedood, vier is gewond, maar kon tog ontsnap. Onder die vermoordes was Jan Christiaan Greyling, wie se weduwee in 1814 met Piet Retief, die latere Voortrekkerleier, sou trou.
Aka fak prof. dr. J.L. Hatting

1888
Adolf Jentsch gebore

Adolf Stephan Fredrich Jentsch gebore in Deuben, voorstad van Dresden, Duitsland, het op 22 Februarie 1933 op uitnodiging van Richard Dietterle, boer in Suidwes-Afrika, aldaar aan wal gestap. Hy het groot hoogtes as landskapskilder bereik, wat aan hom internasionale roem gebring en uitgeloop het op ‘n haas ongekende aanvraag na sy skilderye vanweë hul eenvoud van siening en uitbeelding. Hy is op 18 April 1977 in Windhoek oorlede. Aka fak G. v.d. Walt

1889
Kmdt. A.T. Spies oorlede


Andreas Theodorus Spies is op 11 Oktober 1800 op Swellendam gebore. Sy naam pryk op ‘n ereboog van stigters van die Republiek Utrecht voor die landdroshof op Utrecht, As Voortrekker was hy Volksraadlid van die Republiek Natal, en ook die eerste kommandant en landdros van Weenen. In 1847 het hy en ander die kortstondige Kliprivierse Republiek gestig, waarna hy hom ‘n tyd lank onder die Oorvaalse Trekker gemeenskap gevestig het. Omstreeks 1853 was hy terug in die Buffelsrivier gebied van Noord-Natal, waar hy die Republiek Utrecht help stig het. Hy was die eerste landdros van Utrecht en het ‘n leidende rol gespeel in die suksesvolle onderhandelinge ter vereniging van die Republiek Utrecht met die Republiek Lydenburg en later met die ZAR. Nadat hy in 1864 sy laaste ampsplig verrig het as lid van ‘n kommissie wat geskille oor die opmeet van Utrecht dorp moes ondersoek, het hy hom op sy plaas Goede Hoop teruggetrek en tot aan sy dood veeboer gebly. Aka fak A.J. Van Wyk

1909
Brief van Louis Botha aan F.S. Malan oor Afrikanerbond


Genl. Louis Botha skryf op hierdie dag van sy plaas Rusthof af aan F.S. Malan in die Kaap dat hy – Botha – baie bly daaroor is dat Malan vir Onze Jan Hofmeyr as leier van die Afrikanerbond opgevolg het. Hy sou verder graag die Bond landwyd as ‘n sterk politieke faktor wil sien word. Maar hy het veral gehoop dat die gematigde ondersteuners van die Progressiewe Party met die ander partye soos die Bond, die Orangia-Unie en die Het Volk-party sou saamwerk. As rede voer hy aan dat dit in belang van die Afrikaner is om sy arms wyd oop te maak en sodoende te verseker dat hulle vir goed die regering van die land uitmaak. Daarvoor sou die drie ander partye kan saamsmelt en die gematigdes van die teenpartye by die Afrikaners betrek word. Daar moet egter taktvol te werk gegaan word en hulle moet eerlik en openlik met mekaar wees, ten einde die mees versiende politiek te volg. Slaan hulle die bal nou mis, kry hulle dalk nooit weer die kans nie, skryf Botha. Aka fak prof. dr. M.J. Swart

No comments:

Post a Comment