2007/12/04

November 5

1605
Ontstaan van Guy Fawkes-dag
Baie jare is die stuk Britse geskiedenis wat hom in 1605 afgespeel het, toe ene Guy Fawkes die Buskruitkomplot teen die Britse vors Jakobus I en sy parlement in werking wou stel, ook in Suid-Afrika en selfs deur Afrikaners op hierdie dag gevier. Klappers is afgeskiet, geld is van huis tot huis deur vuil gesmeerde kinders ingesamel, en vreugdevure is aangesteek. Niemand het eintlik die foltering en verraad rondom die Guy Fawkes-voorval geken nie, maar ook hierdie Britse episode is in ons land lewend probeer hou. Algaande het die Afrikaner se nasionale trots en selfkennis die oorhand begin behaal en was dit net die waarlik verlooptes wat die dag nog met klappers herdenk het. Sodanig het die Engelssprekende Suid-Afrikaners van ons land verinheems dat ook hulle geen waarde meer aan hierdie stuk vreemde geskiedenis heg nie: al het die hoë pryse van en ongelukke met hierdie plofspeelgoed ‘n aansienlike invloed gehad om hierdie gesindheid te help meebring.
1932
Eerste vergadering van die FAK se Liederebundelkomitee
Die gedagte wat by die Afrikaanse Studentebond ontstaan het om ‘n Afrikaanse Liederebundel saam te stel, het aanleiding tot die saamstel van die Liederebundelkomitee gegee. Dit is aan die komitee opgedra om vir die saamstel van ‘n Liederebundel verantwoordelik te wees. Op Saterdag 5 November 1932, het die Liederebundelkomitee vir die eerste maal in Johannesburg vergader. Mnr I.M. Lombard is as voorsitter en mnr J.J.F. du Toit as sekretaris aangewys. Die dringendheid en intense belangrikheid van die opdrag om ‘n volksangbundel saam te stel, is terdeë besef. Daarom is daar op hierdie eerste vergadering besluit om so gou as moontlik tot die uitgee van ‘n liederebundel oor te gaan. Met goeie gevolg, maar ook nie sonder probleme nie, het die FAK-Volksangbundel op 7 Julie 1937 die lig gesien.

No comments: